Die plaasgemeenskap van Wolseley eef in vrees ná ’n reeks huisbrake en pogings tot huisbraak die afgelope twee weke. Die kommer volg op ’n gewelddadige aanval waarin ’n boervrou ernstig beseer en haar hond gesteek is.
Natasha Dicey (55) is op Dinsdag 4 Augustus omstreeks 19:00 op die familieplaas La Plaisante naby Wolseley deur vier onbekende mans in haar sitkamer aangeval. Haar man, Nic Dicey, was ten tye van die aanval in Duitsland waar hy ’n konferensie bygewoon het.
Die alarm by die buitehuis het afgegaan nadat Natasha haar paniekknoppie geaktiveer het, maar dit het die aanvallers nie afgeskrik nie.
Volgens Nic is sy vrou met ’n baksteen of ’n ander stomp voorwerp oor die kop geslaan en het sy ernstige kop- en gesigbeserings opgedoen.
Hoewel haar fisieke beserings sal genees, sê hy die aanval het ook emosionele en sielkundige gevolge wat sy nou moet verwerk.
Die gesin se Deense hond het die verdagtes aangeval, maar is tydens die voorval oor die kop geslaan en gesteek. Die dier is deur ’n veearts behandel en het die aanval oorleef.
Volgens kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, het die vier verdagtes van die toneel gevlug met Dicey se handsak, waarin persoonlike besittings en haar selfoon was.
Personeel van ’n veiligheidsmaatskappy en lede van die blitspatrollie was reeds op die toneel toe die polisie daar aangekom het.
Nic het ná die aanval onmiddellik probeer om ’n vlug uit Duitsland terug na Suid-Afrika te kry. Hy het ook sy dank uitgespreek teenoor die gemeenskap vir die ondersteuning wat sy vrou en hul hond ontvang het.
Provinsiale polisiewoordvoerder Thembakazi Mpendukana het bevestig dat niemand nog in verband met die huisbraak in hegtenis geneem is nie. Die ondersoek duur voort.
Volgens Nic was daar sedert die aanval sowat agt verdere huisbrake of pogings tot huisbraak in die omgewing.
“Dis soos ’n oorlogsone. Bykans elke aand kom daar ’n radioboodskap deur van paniekerige plaasinwoners wat sê daar is mense buite hul huis of mense probeer toegang kry tot hul huis. Gelukkig is niemand anders nog beseer nie.”
Hy sê die voortdurende bedreiging eis ’n sielkundige tol van mense in die omgewing.
“Jy maak jou deure al vroeg toe en stel jou alarms, maar dit is duidelik dat die misdadigers nie bang is nie. Hulle kom steeds in. Dis aaklige dinge wat gebeur. Ons moet wakker wees.”
Die Dicey-familie boer reeds sedert 1920 op La Plaisante. Nic en sy broers, Anthony en Peter, is die vierde geslag op die vrugteplaas.
Nico Harmse van G24-sekuriteit het die toename in misdaad in die gebied gedurende die afgelope twee weke bevestig.
Volgens hom toon die aanvallers se werkswyse en die soort wapens wat gebruik word, waaronder stokke en klippe, sterk ooreenkomste. Hy meen dit kan dieselfde mense wees wat by verskeie van die voorvalle betrokke is.
Die verdagtes beweeg volgens Harmse ook te voet, wat beteken dat kameras wat voertuigregistrasienommers herken, min help om hulle op te spoor. Die bosse, boorde en wingerde in die omgewing bemoeilik die soektog verder.
Die Wolseley-plaaswag het intussen twee hommeltuie met termiese kameras aangeskaf om verdagtes te help opspoor.
Steven Matthews van Wolseley-plaaswag sê die gemeenskap beskik ook oor ’n radionetwerk en ’n WhatsApp-noodgroep wat gebruik word om die plaaswag vinnig te mobiliseer wanneer ’n voorval aangemeld word. Volgens hom het dié stelsel reeds gehelp om lewens te red.
G24 en die polisie het ook onlangs ’n gesamentlike operasie van stapel gestuur om beboste gebiede te deursoek. Bykomende veiligheidskofte is ingestel, terwyl gespesialiseerde spanne uit die Kaap met honde in die gebied is om spore te volg.
“Daar is dus ’n plan van aksie,” het Harmse gesê.
Hy het inwoners in landelike gebiede aangeraai om hul veiligheidsmaatreëls te verskerp, seker te maak dat alarms en paniekknoppies werk en by ’n plaaslike veiligheidstruktuur in te skakel.
Volgens Harmse is goeie kommunikasie noodsaaklik sodat hulp vinnig ontbied kan word wanneer ’n voorval plaasvind. Hy beveel ook aan dat inwoners vooraf ’n rugsteunplan vir kommunikasie in plek het.