Boere het die vordering met die verkryging en verspreiding van bek-en-klouseer-entstowwe deur die private sektor verwelkom nadat die siekte die landboubedryf die afgelope maande onder groot druk geplaas het.
Andrew Morphew, woordvoerder van FMD Response SA, sê daadwerklike vordering is gemaak omdat meer entstowwe nou deur ’n groter aantal veeartse by boere kan uitkom.
Die eerste besendings van Dollvet se Turkse bek-en-klouseer-entstof het vandeesweek vanaf Dunevax, die Suid-Afrikaanse agent, na private veeartsenypraktyke begin beweeg.
Volgens Morphew skep dit ’n belangrike bykomende kanaal waardeur diere ingeënt kan word.
“Om meer entstowwe in die veld te kry, is ’n groot stap. Die volgende prioriteit is om seker te maak boere en veeartse beskik oor die beste beskikbare inligting oor waar bek-en-klouseer voorkom en watter stamme opgespoor word,” het hy gesê.
Morphew het ’n beroep op die departement van landbou gedoen om gereeld inligting uit uitbrekingstoetse bekend te maak, veral oor watter stamme van die virus opgespoor word en waar hulle voorkom.
Volgens hom beskik die regering reeds oor belangrike inligting uit dié toetse, maar moet dit gereeld en op ’n bruikbare manier gedeel word met diegene wat die siekte op grondvlak bekamp.
TLU-voorsitter Bennie van Zyl sê boere is dankbaar dat ’n stadium bereik is waar private verspreiding van entstowwe binne ’n gereguleerde omgewing kan plaasvind.
“Ons moet nou almal verseker dat ons nie onverantwoordelik optree nie,” het Van Zyl gewaarsku.
Volgens hom kom drie stamme in Suid-Afrika voor. Hoewel ander stamme elders in die wêreld volgens hom baie gevaarliker is, moet daar gewaak word teen die invoer van entstowwe wat dié ander stamme bevat.
Van Zyl het gesê die entstowwe wat Suid-Afrika tans ontvang, kom uit Argentinië en Turkye.
Hy het ook benadruk dat inenting nie ’n waarborg van 100% bied dat ’n ingeënte dier immuniteit teen die betrokke siekte sal ontwikkel nie.
Volgens Van Zyl sal ’n omvangryke inentingsveldtog nodig wees indien bek-en-klouseer na sy endemiese gebied teruggedwing moet word.
“Ons sal regoor Suid-Afrika moet inent, met ’n opvolgdosis binne ses weke en nog een ná ses maande,” het hy gesê.
Van Zyl het egter gewaarsku dat dit tyd sal neem om bek-en-klouseer uit te roei.
Landbouminister Willie Aucamp het vroeër vandeesmaand dr. Theo de Jager, uitvoerende direkteur van die Southern African Agri Initiative, en dr. Danie Odendaal, direkteur van die Veterinarian Network, tydens ’n bek-en-klouseer-simposium tot die Industry Coordination Council (ICC) aangestel.
Aucamp het die uitgebreide raad en die ministeriële taakspan oor bek-en-klouseer as die land se “bomb squad” in die stryd teen die siekte beskryf.
Volgens hom is altesaam 17 miljoen dosisse entstof tot dusver na Suid-Afrika ingevoer ter ondersteuning van die nasionale strategie.
Aucamp het ook aangekondig dat die ICC se opdrag uitgebrei word om sterker op die praktiese uitvoering van die inentingsplan te fokus, veral noudat boere toegelaat word om hul eie diere in te ent.
Volgens die minister bring De Jager en Odendaal waardevolle praktiese kennis, leierskap en tegniese kundigheid na die raad.
Aucamp sê die regering is daartoe verbind om met alle rolspelers in die landbousektor saam te werk om die uiteindelike doel van ’n bek-en-klouseervrye Suid-Afrika te bereik.