PARYS – Die wêreldbekende Musée d’Orsay in Parys het ‘n besondere uitstalling geopen met een doel: om die regmatige eienaars van kunswerke op te spoor wat tydens die Tweede Wêreldoorlog deur die Nazi’s geroof is.
Die uitstalling, “Aan wie behoort hierdie?”, bevat tans 13 kunswerke, waaronder skilderye deur Pierre-Auguste Renoir en Edgar Degas, asook ‘n beeldhouwerk deur Auguste Rodin. Die museum hoop dat elke kunswerk uiteindelik aan sy regmatige erfgename terugbesorg sal kan word.
Meer as 100 000 kuns- en kultuurvoorwerpe is tydens die oorlog uit Frankryk geplunder. Ná die oorlog is sowat 60 000 teruggevind, waarvan 45 000 aan hul eienaars terugbesorg is. Nog 2 200 werke is aan Franse museums toevertrou terwyl navorsing oor hul herkoms voortduur.
Die Musée d’Orsay het reeds 15 kunswerke oor die afgelope 30 jaar aan families teruggegee, maar 225 bly steeds in sy bewaring omdat hul oorspronklike eienaars nog nie vasgestel kon word nie.
Die enigste uitgestalde werk waarvan die eienaar bekend is, is Le Souper au Bal (The Supper at Ball) deur Edgar Degas. Dit het aan die Joodse kunsversamelaar Fernand Ochsé behoort, wat later deur die Nazi’s na Auschwitz gedeporteer en daar vermoor is. Dit is onbekend of enige van sy erfgename vandag nog leef of bewus is dat hy die skildery besit het.