’n 74-jarige man met Alzheimer se siekte is lewend gevind nadat hy 11 dae lank in Brasilië se Amasone-reënwoud vermis was.

Reddingswerkers het Ferreira dos Santos Vrydag, 20 November, sowat 10 km van die plek waar hy verdwyn het, gevind.

Beelde van die redding wys hoe hy net in sy onderklere sit en gedisoriënteerd voorkom. Hy is later op ’n geïmproviseerde draagbaar deur die digte woud uitgedra.

Die redding het gevolg nadat sy kleindogter, Sara Montes, vroeër die week ’n emosionele beroep gedoen het dat soekspanne nie moed opgee nie.

“Moenie van ons vergeet nie. Moenie van Oupa vergeet nie,” het sy in ’n video op Instagram gevra.

Volgens haar sou die soektog moontlik op Sondag, 22 November, opgeskort word indien hy nie gevind word nie.

Ferreira dos Santos, ’n voormalige informele mynwerker wat die reënwoud goed geken het, het buriti-vrugte geëet en water uit natuurlike bronne gedrink om aan die lewe te bly.

Parkwagter Nerivan da Silva het gesê soekspanne het ook beddens gevind wat hy uit açaí-palmblare gemaak het.

Voetspore in die gebied het aangedui dat hy vermoedelik vir ’n tyd lank in sirkels geloop het.

Die digte plantegroei in die gebied het die soektog bemoeilik, aangesien sigbaarheid op sommige plekke tot net ’n paar meter beperk kan wees.

Ferreira dos Santos het 11 dae alleen in die reënwoud oorleef.

Hy was teen Sondagoggend steeds in die hospitaal vir behandeling en waarneming.