ORANIA – Besoekers aan vanjaar se BCVO Winterspele kan uitsien na meer as net sport. Net ‘n hanetreetjie van die sportvelde af, by die Orania Gemeenskapsaal op pad na die Beeldekoppie, verrys ANKR – ‘n mobiele restaurant wat spesiaal vir die Winterspele opgerig is.
Waar die meeste sportbyeenkomste op kosstalletjies staatmaak, bring ANKR ‘n ander benadering. Die konsep maak dit moontlik om ‘n volwaardige restaurant by groot byeenkomste op te slaan, met sitplek, bediening en ‘n volledige eetervaring.
Die restaurant is ingerig om spelers, ouers, afrigters en ondersteuners ná die dag se wedstryde ‘n plek te bied waar hulle in ‘n ontspanne atmosfeer kan saamkuier. ANKR is Vrydag van 17:30 tot 21:00 en Saterdag van 15:00 tot 21:00 oop.
Hoewel besoekers welkom is om eenvoudig op te daag, kan diegene wat seker wil maak van ‘n tafel ook vooraf bespreek. Besprekings en verdere inligting is beskikbaar by www.winterspele.co.za/ankr-restaurant.