Die Bloedrivier-erfenisterrein in KwaZulu-Natal bied ’n beloning van R20 000 aan vir inligting wat kan lei tot die identifisering, inhegtenisneming en skuldigbevinding van die persoon of persone wat verantwoordelik was vir ’n brand wat Maandagoggend vroeg die lewe en woning van die terrein se bestuursegpaar en hul gesin bedreig het. Daar word vermoed dat die brand doelbewus gestig is.
Die brand het omstreeks 03:30 op Maandag 10 Augustus uitgebreek. Olie is volgens die bestuur op verskeie plekke rondom die erf en by die kampeerterrein aangetref, wat vermoedens van brandstigting laat ontstaan het.
’n Strafregtelike klag is reeds by die Kingsley-polisiekantoor ingedien.
Judean Janse van Vuuren, finansiële bestuurder by die Bloedrivier-erfenisterrein, het wakker geword nadat sy ’n rooi gloed en vlamme buite haar kamervenster opgemerk het.
Volgens haar was die vlamme bykans dakhoogte en het digte rook die sig op die terrein beperk.
Haar dogter, Veroelize, het ’n tuinslang gebruik om die woning en omliggende mure nat te spuit om te voorkom dat die vuur die huis bereik. Sy het later ook gehelp om die brand te blus en het verskeie brandwonde opgedoen.
Die bestuursegpaar en Veroelize se twee kinders was in die woning, wat binne die onmiddellike gevaargebied geval het.
“Ons beskou hierdie voorval as uiters ernstig. Wanneer ’n brand so naby aan ’n woning ontstaan dat mense en kinders se lewens in gevaar gestel word, kan dit nie bloot as ’n gewone veldbrand afgemaak word nie,” het Janse van Vuuren gesê.
Olie tydens brand aangetref
Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Kultuurtuiste, was saam met sy seuns, Niël en Daniël Langner, en ’n vriend op die terrein.
Niël, ’n kommunikasie- en bemarkingsbeampte by die Kultuurtuiste, het wakker geword toe Janse van Vuuren om hulp geroep het. Hy en sy broer het daarna gehelp om die brand te bestry.
“Ons het eers nie geweet wat aangaan nie, want ons het wakker geword van iemand wat om hulp roep. Toe ek die deur oopmaak, het ek die vlamme gesien,” het Niël vertel.
Volgens hom het hy en sy broer aanvanklik probeer om die vuur dood te trap, maar op ’n gedeelte afgekom wat hulle nie kon blus nie.
“Ons het besef dit is ’n oliekol,” het hy gesê.
Tydens die bluswerk het warm olie teen Daniël se bene opgespat. Hy het ligte brandwonde opgedoen wat volgens die inligting wat deur Bloedrivier verskaf is, permanente letsels gelaat het.
Die brand is teen ongeveer 05:00 onder beheer gebring.
Infrastruktuur beskadig
Hoewel niemand ernstig beseer is nie, het die brand aansienlike skade aan infrastruktuur op die erfenisterrein aangerig.
’n Groot gedeelte van die kampeerterrein het afgebrand, terwyl kragpunte en ander elektriese infrastruktuur beskadig of vernietig is. Boorgatpompe het ook uitgebrand en die donkies se blyplek is beskadig.
Volgens Bloedrivier benodig die diere tans dringend kos en verdere versorging.
’n Boer uit die omgewing, Leonard Kùsel, het na die terrein gehaas nadat hy om hulp gevra is en met die brandbestryding gehelp.
“Ons is dankbaar teenoor elke persoon wat daardie oggend opgestaan het om te help. Die ondersteuning van mense in die omliggende gemeenskap was van groot waarde,” het Janse van Vuuren gesê.
Bloedrivier en Ncome werk saam
Langner het beklemtoon dat die voorval nie as ’n aanval op die Ncome-museum of die Ncome-gemeenskap beskou word nie.
Bloedrivier en Ncome is aangrensende erfenisterreine en volgens Langner bestaan daar goeie verhoudinge en samewerking tussen hulle.
Daar is reeds met die Ncome-museum en gemeenskapsleiers in die omgewing kontak gemaak om saam te werk om die persoon of persone wat vir die brand verantwoordelik was, te probeer identifiseer.
“Ons wil nie hê dat ’n kriminele daad verdeeldheid moet skep tussen gemeenskappe en erfenisterreine wat goeie verhoudinge met mekaar het nie,” het Langner gesê.
“Die veiligheid van die hele gebied is belangrik. Wat by een erfenisterrein gebeur, kan gevolge vir die ander hê. Daarom moet Bloedrivier, Ncome, die gemeenskap en wetstoepassingsowerhede nou saamwerk.”
Weens die sensitiwiteit rondom die twee aangrensende erfenisterreine sal die voorval volgens Bloedrivier ook onder die aandag van die toepaslike nasionale misdaadintelligensie-owerhede gebring word.
R20 000 vir inligting
Die Bloedrivier-erfenisterrein bied R20 000 aan vir betroubare inligting wat tot die identifisering, inhegtenisneming en skuldigbevinding van die verantwoordelike persoon of persone kan lei.
Enigiemand met inligting word versoek om dit aan die polisie of Bloedrivier se bestuur te verskaf.
Veiligheid word verskerp
Bloedrivier gaan ná die voorval sy veiligheidsmaatreëls op die terrein versterk. Daar word onder meer gekyk na verbeterde beligting rondom die terrein, bykomende brandblustoerusting, verbeterde kamerastelsels en versterkte sekuriteit rondom die museum.
Die beskadigde infrastruktuur en die donkies se blyplek sal ook herstel moet word.
Die erfenisterrein het ’n beroep op ondersteuners, die gemeenskap en ondernemings gedoen om met die befondsing van dié veiligheids- en herstelmaatreëls te help.
“Die veiligheid van ons personeel, hul gesinne en besoekers kan nie aan toeval oorgelaat word nie. Ons gaan nie ná hierdie voorval terugstaan nie. Ons gaan die terrein herstel, veiligheidsmaatreëls versterk en voortgaan om Bloedrivier se erfenis vir toekomstige geslagte te bewaar,” het Langner gesê.