Boer24.com het twee dae gelede berig dat die hawe van Durban deur die Wêreldbank en S&P Global as die wêreld se mees verbeterde hawe aangewys is. Nou wys dieselfde verslag egter dat die hawe van Kaapstad aan die teenoorgestelde kant van die skaal staan.
Volgens die jongste ranglys is Kaapstad se houerhawe die swakste presterende hawe ter wêreld. Die hawe is laaste geplaas uit 400 hawens wat in die studie beoordeel is.
Die bevinding het nuwe vrae laat ontstaan oor die uitwerking wat die hawe se probleme op handel en die breër Suid-Afrikaanse ekonomie het.
Volker von Widdern, hoof van strategiese risiko by Riskonet Africa, sê die probleme spruit uit verskeie faktore.
Volgens hom speel die beskikbaarheid van hyskrane, weerstoestande en die doeltreffendheid van bestuurstelsels alles ’n rol.
“Dit is nie onoplosbare probleme nie,” sê hy. “Kaapstad is nie die enigste hawe in die wêreld wat sterk wind ervaar nie. Daar is internasionale beste praktyke wat toegepas kan word om vrag doeltreffend te hanteer.”
Terwyl Durban van tydelike hyskrane en herstelwerk gebruik gemaak het om sy prestasie te verbeter, sukkel Kaapstad steeds om sy kapasiteit uit te brei.
Von Widdern wys daarop dat Kaapstad die afgelope dekade gemiddeld sowat een miljoen twintigvoet-houereenhede (TEU’s) per jaar hanteer het, terwyl Durban ongeveer twee miljoen per jaar verwerk het.
Hy meen Suid-Afrika kan nie bekostig om hawens swak te laat funksioneer nie.
“Suid-Afrika se ekonomie is sterk afhanklik van invoere en uitvoere. Doeltreffende hawens is daarom van die belangrikste infrastruktuur in die land,” sê hy.
Volgens Von Widdern is groter beleggings in infrastruktuur en moderne tegnologie noodsaaklik indien Kaapstad sy prestasie wil verbeter.
Hy noem onder meer slimmer bestuurstelsels, hyskrane wat by hoër windsnelhede kan werk en beter stelsels om houers tydens sterk wind te beveilig.
“As kapitaalbesteding afneem terwyl bedryfskoste styg, is dit moeilik om kapasiteit uit te brei en groei te bevorder,” waarsku hy.