CATIA LA MAR – Internasionale reddingspanne het Donderdag steeds gespook om ‘n 43-jarige Venezolaanse man te bereik wat al agt dae lank onder die puin van ‘n ineengestorte gebou vasgekeer is ná die verwoestende aardbewings wat Venezuela verlede week getref het.
Hernan Gil, ‘n veiligheidswag, is vasgekeer toe die seweverdiepinggebou waarin hy gewerk het in Catia La Mar aan die kus ineengestort het. Teen Donderdagaand was reddingswerkers minder as ‘n meter van hom af, maar hulle moes uiters versigtig werk om te voorkom dat die beskadigde gebou verder inmekaar stort.
“Dit is werklik ‘n wonderwerk,” het sy vrou, Gusbimar Gonzalez, gesê.
“Ek is verstom. Dit is die eerste keer dat ek soveel lande saam sien werk om een mens se lewe te red.”
Reddingspanne uit Venezuela, Chili, die Verenigde State, Portugal, Costa Rica, El Salvador en Mexiko werk reeds die afgelope drie dae dag en nag om Gil te bereik.
Volgens Cristian Vera, hoof van die Chileense reddingspan, is die reddingspoging uiters moeilik.
“Dit is ‘n baie ingewikkelde struktuur om by uit te kom. Dit was nie maklik om die presiese plek waar die slagoffer vasgekeer is, te bereik nie.”
Terwyl daar steeds gehoop word dat Gil lewend gered kan word, verdiep die humanitêre krisis in Venezuela.
Die president van die Nasionale Vergadering, Jorge Rodríguez, het Woensdag gesê die dodetal het tot 2 295 gestyg. Meer as 11 000 mense is beseer, ongeveer 13 000 is dakloos en die Verenigde Nasies beraam dat sowat 50 000 mense steeds vermis word.
Waarnemende president Delcy Rodríguez het sewe dae van nasionale rou afgekondig en gesê die land se “siel is verskeur deur die groot verlies aan menselewens”.
In die swaar getrefde stad La Guaira is die meeste ineengestorte geboue reeds met die letter “D” gemerk om aan te dui dat reddingswerkers die puin deursoek het sonder om enige tekens van lewe te vind.
“Ons mors nie tyd op plekke waar daar geen verwagting is om mense lewend te vind nie,” het Javier Rodes, koördineerder van ‘n Spaanse reddingspan, gesê.
Hoewel daar uitsonderings was – soos die driejarige seuntjie wat vroeër die week ses dae ná die aardbewings lewend uit die puin gered is – sê kenners die kans om iemand ná 72 uur lewend te vind, is baie klein.
Die fokus verskuif intussen al hoe meer van reddingswerk na oorlewing.
Voedsel en skoon drinkwater raak skaars, terwyl al hoe langer toue by noodhulppunte vorm.
“Hulle deel wel kos uit, maar soms maak mense byna mekaar dood vir kos,” het Daniela Armas, ‘n 18-jarige inwoner van La Guaira, gesê nadat sy by ‘n noodskuiling vir kos gewag het.
Daar is ook toenemende berigte van plundering. Vier polisielede is Woensdag in hegtenis geneem nadat inwoners hulle betrap het terwyl hulle waardevolle besittings uit die puin gesteel het.
Lia Poggio, hoof van die Internasionale Organisasie vir Migrasie (IOM) se sending in Venezuela, het die situasie as “uiters kritiek” beskryf.
Baie gesinne is steeds afhanklik van skenkings en vrywilligers.
“Ons het eers gisteraand water begin ontvang,” het Fatima Berroteran, wie se woonstel in La Guaira ineengestort het, gesê.
Die Wêreldvoedselprogram het intussen ‘n beroep gedoen vir 50 miljoen Amerikaanse dollar om sowat 500 000 mense vir die volgende drie maande van voedsel te voorsien.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie waarsku dat Venezuela se gesondheidsdienste onder geweldige druk verkeer en dat die gevaar vir uitbrekings van siektes soos masels en witseerkeel toeneem weens lae inentingsvlakke.
‘n Voorlopige ontleding van NASA se satellietdata dui daarop dat ongeveer 58 870 geboue waarskynlik deur die aardbewings beskadig of vernietig is.