Die Verenigde Nasies se Komitee oor die Regte van die Kind het ’n beroep gedoen dat kinders beskerm moet word te midde van die voortgesette konflik in die Midde-Ooste.
Die komitee het sy kommer uitgespreek oor berigte van ’n lugaanval op ’n skool in die Iraanse stad Minab. Volgens Iran het Israel en die Verenigde State die aanval uitgevoer op die eerste dag van die oorlog, wat meer as 150 mense se lewens geëis het.
Die Verenigde State en Israel het egter nog nie die aanval bevestig nie, en die nuusagentskap AFP kon nie die dodetal onafhanklik verifieer of die toneel besoek nie.
Die VN-komitee sê hy is ontsteld oor berigte van aanvalle op burgerlike infrastruktuur, insluitend skole en hospitale, wat kinders beseer en getraumatiseer het en talle jong lewens geëis het.
Volgens die komitee dien die voorval as ’n herinnering dat kinders onder die kwesbaarste groepe in gewapende konflikte tel en nooit as “kollaterale skade” beskou moet word nie.
Volgens Iran se staatsmedia is begrafnisse Dinsdag gehou vir minstens 165 mense, insluitend studente, wat in die beweerde aanval dood is.