’n Vierletterkode op ’n sowat 400 jaar oue hangslot wat uit ’n skeepswrak aan die kus van Wallis gevind is, is uiteindelik met moderne skanderingstegnologie ontsyfer.

Die koperhangslot is in 1999 deur Peter Hughes met ’n metaalverklikker op Morfa-strand naby Margam, Port Talbot, gevind.

Dit vorm deel van ’n groter versameling voorwerpe wat met die wrak van die handelskip Ann Francis verbind word. Die skip het op 28 Desember 1583 tydens ’n storm vergaan terwyl dit van Spanje teruggekeer het. Honderde voorwerpe uit die wrak het eeue lank onder die sand begrawe gelê.

Kenners van Amgueddfa Cymru, oftewel Museum Wales, en die Universiteit van Cardiff het CT-skandering gebruik om die binnekant van die slot te ondersoek. Daarmee kon hulle die meganisme sien en uiteindelik die korrekte letterkombinasie bepaal.

Die kode is ANCE.

Die slot het vier draaibare ringe met ses letters op elke ring. Dit beteken daar is 1 296 moontlike kombinasies.

Hughes het die slot naby Spaanse silwermunte en twee muntgewigte gevind. Kenners vermoed dit kon óf gebruik gewees het om dié waardevolle voorwerpe te beskerm óf om ’n kis of klein houer toe te sluit waarin items soos dokumente of tekstiele was wat nie behoue gebly het nie.

Dit is egter nie bekend wat oorspronklik daarin was nie.

Hughes, nou 69 jaar oud, sê die ontdekking het toevallig begin toe hy op ’n dag wat hy af was met sy metaalverklikker op die strand geloop en ’n munt gevind het.

Hy het self vir sowat 20 jaar probeer om die hangslot oop te kry deur verskillende kombinasies te toets, maar sonder sukses. Hughes was verheug toe die kenners uiteindelik die kode kon kraak.

Dr. David Williams van die Universiteit van Cardiff se Ingenieurskool het gesê hy was aanvanklik skepties oor of die skandering sou werk, omdat die toerusting nie spesifiek vir dié doel ontwerp is nie.

Die span het mikro-CT-skandering gebruik, ’n tegniek soortgelyk aan die CT-skanderings wat in hospitale gebruik word, maar wat vir kleiner voorwerpe aangepas is.

Met die eerste skandering kon die navorsers reeds letters binne die meganisme sien. ’n Tweede poging was onsuksesvol, maar met die derde skandering het hulle ’n ander benadering gevolg en uiteindelik die kode bepaal.

Die slot is volgens museumkenners in uitstekende toestand en werk steeds soos dit eeue gelede sou gewerk het.

Hughes het die versameling voorwerpe wat hy oor jare gevind het in 2017 aan Amgueddfa Cymru oorhandig. Die versameling is in 2026 by die National Waterfront Museum in Swansea uitgestal.

Kenners sê die goed bewaarde slot bied ’n waardevolle blik op die tydperk waarin dit gebruik is. Wat presies die slot beskerm het, sal waarskynlik nooit bekend wees nie.