Agri Ottosdal het ’n beroep op die gemeenskap gedoen om Donderdag die hofverrigtinge in Ottosdal by te woon wanneer die twee mans wat van die moord op Hannetjie van Zyl aangekla word, na verwagting om borgtog aansoek doen.
Van Zyl se geliefdes en vriende neem Woensdag om 11:00 tydens ’n kerkdiens in die AGS Goeie Nuus-gemeente in Wolmaransstad van haar afskeid.
Martin Boitumelo Mosime (28) en Moleko Sekwaage (29) word daarvan aangekla dat hulle Van Zyl op Maandag 5 Oktober omstreeks 18:00 by ’n plaashuis naby Ottosdal oorval het.
Sy is aangeval toe sy uit haar voertuig geklim het om die hek oop te maak. Van Zyl is na bewering herhaaldelik met ’n ysterpyp oor die kop geslaan. Die aanvallers het met haar handsak en selfoon gevlug.
Van Zyl en haar man, Sarel, het op die plaas Doornpan, sowat 17 km buite Ottosdal, gewoon. Sarel het op sy vrou afgekom en hulp ontbied. Van Zyl is kort ná die aanval weens ernstige kopbeserings dood, ondanks medici se pogings om haar lewe te red.
Van Zyl het nie kinders van haar eie gehad nie, maar Sarel het twee dogters uit ’n vorige huwelik. Die plaas behoort aan Willem Grobbelaar, vir wie Sarel reeds jare as werktuigkundige werk. Grobbelaar het ná die moord gesê die plaaslike gemeenskap, en veral Sarel, is erg getraumatiseer deur wat gebeur het.
Naudé Pienaar, uitvoerende hoofbestuurder van Agri Noordwes, het Van Zyl se moord as “wreed en onverklaarbaar” beskryf. Daar geen verstaanbare motief vir die moord nie en kan gewone verskonings soos honger of armoede nie daarvoor aangevoer word nie.
Hy sê die voortdurende debat oor redes, motiewe en verskonings vir misdaad raak al hoe moeiliker om te aanvaar wanneer gewone mense die slagoffers is. Pienaar meen die owerhede moet misdaad bekamp, ondersoek en straf, en dat daar dringend anders oor misdaad op plase en die dodelike gevolge daarvan gedink moet word.
Hy het ook gesê die huidige stelsel van misdaadvoorkoming en strafreg faal te veel mense. Daar reeds te veel families en gemeenskappe wat deur soortgelyke verliese geraak is.
Agri Ottosdal het gemeenskapslede aangemoedig om Donderdag die hofverrigtinge by te woon om hul steun aan die Van Zyl-familie te wys.
Die twee beskuldigdes sal na verwagting in die landdroshof in Ottosdal verskyn.
Terugspore/Pingbacks