WASHINGTON – Die Verenigde State het Vrydag nuwe Iran-verwante sanksies ingestel wat gemik is op Ali Ansari, ‘n prominente Iranse bankier en sakeman, asook 13 ander individue en entiteite wat volgens Washington die Iranse regering se finansiële netwerk ondersteun.
Die Amerikaanse Tesouriedepartement het gesê die sanksies volg op Iran se hervatting van aanvalle op olietenkwaens in die Straat van Hormuz.
Volgens die departement het Ansari, wat in Dubai woon en reeds deur Brittanje gesanksioneer is, staatsfondse gebruik om ‘n uitgebreide internasionale portefeulje van eiendomme en kommersiële beleggings op te bou. Die Amerikaanse Tesouriedepartement beweer dié bates het uiteindelik Iran se regerende elite, die Islamitiese Revolusionêre Wagkorps (IRGC) en Iran se nuwe Opperleier, Ayatollah Mojtaba Khamenei, bevoordeel.
Die Amerikaanse Kantoor vir Beheer oor Buitelandse Bates (OFAC) het ook drie Iranse wisselhuise en verskeie buitelandse dopmaatskappye gesanksioneer. Volgens die Tesouriedepartement het dié ondernemings jaarliks miljarde dollars namens reeds gesanksioneerde Iranse banke verskuif deur ‘n netwerk van dopmaatskappye te gebruik.
Die Amerikaanse Staatsdepartement se woordvoerder, Tommy Pigott, het gesê die VSA neem “besliste stappe om die finansiële lewenslyne van Iran se regerende elite af te sny”.
“Deur hierdie netwerke te teiken, ontwrig die Verenigde State die regime se vermoë om toegang tot buitelandse valuta te verkry en internasionale finansiële transaksies te doen,” het Pigott gesê.
Die aankondiging kom ná ‘n week van hernude spanning in die Midde-Ooste waartydens drie kommersiële tenkwaens uit Katar en Saoedi-Arabië onder vuur gekom het. Die VSA het daarna aanvalle op Iranse teikens uitgevoer, waarna Iran op sy beurt Amerikaanse militêre terreine in Golfstate aangeval het.
Die Amerikaanse president, Donald Trump, het Vrydag gesê die skietstilstand met Iran is “verby”, maar dat Washington ingestem het om op Iran se versoek diplomatieke gesprekke voort te sit.
Die Amerikaanse minister van Finansies, Scott Bessent, het gesê sy departement sal “elke beskikbare hulpmiddel” gebruik om Iran se leierskap van die internasionale finansiële stelsel te isoleer.
Iran se minister van Buitelandse Sake, Abbas Araqchi, het Saterdag aangevoer dat die nuwe sanksies Artikel 9 van die memorandum van verstandhouding wat verlede maand tussen die twee lande onderteken is, oortree.
Volgens Iran verbied Artikel 9 van die memorandum die Verenigde State om nuwe sanksies in te stel of bykomende militêre magte na die streek te ontplooi.
“Daar kan slegs wedersydse nakoming wees,” het Araqchi op X geskryf en volgehou dat Iran tot dusver sy verpligtinge nagekom het.
Iran het ook gewaarsku dat hy gereed is vir “‘n algehele verdediging” indien die Verenigde State die ooreenkoms verder sou skend.
Volgens die Tesouriedepartement het Ansari vroeër Ayandeh Bank besit, wat reeds onder Amerikaanse sanksies was voordat dit in Oktober 2025 op bevel van die Iranse regering gesluit is. Die VSA beweer hy het deur maatskappye en bankrekeninge in verskeie lande miljoene dollars se bates opgebou wat uiteindelik tot voordeel van Iran se regerende elite aangewend is.