Die Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT) doen ‘n beroep op Suid-Afrikaners om van 24 tot 27 Julie aan ‘n landswye kraanvoëlsensus deel te neem om te help bepaal hoe dit met die land se drie kraanvoëlspesies gaan.
Die nasionale sensus, wat van 1998 tot 2006 jaarliks gehou is, word vanjaar met behulp van moderne tegnologie herleef. Die sensus word in samewerking met die Internasionale Kraanvoëlstigting (ICF) aangebied.
Die inligting wat ingesamel word, sal gebruik word om die grootte en verspreiding van Suid-Afrika se kraanvoëlbevolkings te bepaal en bewaringsbesluite te ondersteun.
Suid-Afrika is die tuiste van drie kraanvoëlspesies – die bloukraanvoël, die lelkraanvoël en die grys kroonkraanvoël. Die Drakensberge is ‘n brandpunt vir al drie spesies.
Volgens die EWT dui lugopnames wat sedert die vorige sensus gedoen is daarop dat die bevolkings van die drie spesies in KwaZulu-Natal toeneem, maar in ander gebiede krimp.
Die organisasie sê die bloukraanvoël se Rooidatalys-status is van “byna bedreig” na “kwesbaar” verander, wat kommer oor die spesie se toekoms wek.
Daarteenoor het doelgerigte bewaringspogings in die Drakensberge daartoe gelei dat die lelkraanvoël se status van “kritiek bedreig” na “bedreig” verander het, terwyl die grys kroonkraanvoël steeds as “kwesbaar” geklassifiseer word.
Die bloukraanvoël het ‘n bleekblou lyf met ‘n wit kroon, die grys kroonkraanvoël is maklik herkenbaar aan sy goue kroonvere en helderrooi keelsak, terwyl die lelkraanvoël ‘n lang wit nek en kenmerkende lelvelle onder die ken het.
Deelnemers word gevra om die aantal kraanvoëls, die spesie en die ligging van die waarneming deur te gee. Die EWT sê alle persoonlike besonderhede sal vertroulik hanteer word en die resultate sal bekend gemaak word sodra die data ontleed is.
Deelnemers kan hul waarnemings per WhatsApp na 060 086 9053 stuur of die onderstaande QR-kode skandeer.
image