JOHANNESBURG – 48 jaar nadat Ivan en Lynette Saltzman hul eerste afslagapteek met net R10 000 in Mondeor geopen het, kom die stigtersfamilie se aktiewe betrokkenheid by Dis-Chem tot ‘n einde.
Die JSE-genoteerde apteekgroep het Maandag aangekondig dat Saul Saltzman, seun van die stigters, met ingang van 17 Julie as nie-uitvoerende direkteur bedank het. Daarmee sluit hy ‘n loopbaan van 25 jaar by die onderneming af.
Saul Saltzman het op 27 Februarie vanjaar as uitvoerende direkteur uitgetree ná 19 jaar in dié rol, waarna hy as nie-uitvoerende direkteur aangebly het. Sy jongste bedanking beteken dat hy nie langer op Dis-Chem se direksie dien nie.
Die bedanking volg kort nadat Ivan Saltzman op 30 Junie uit sy uitvoerende rol getree het ná 48 jaar aan die stuur van die onderneming. Hy het reeds in 2023 as uitvoerende hoof uitgetree, waarna die destydse finansiële hoof, Rui Morais, die leisels oorgeneem het. Ivan dien steeds as nie-uitvoerende direkteur op die direksie.
Lynette Saltzman het reeds in 2022 as uitvoerende direkteur uitgetree om op ‘n bedryfsrol in die groep se skoonheidsafdeling te fokus.
Dis-Chem het in ‘n SENS-aankondiging sy waardering uitgespreek vir Saul Saltzman se jarelange bydrae, toewyding en diens aan die maatskappy en hom alle sterkte met sy toekomstige ondernemings toegewens.
Dis-Chem is in 1978 gestig en het sedertdien van een apteek tot Suid-Afrika se tweede grootste apteekkleinhandelaar gegroei. Die groep bedryf meer as 300 winkels regoor Suider-Afrika.
Vir die boekjaar tot einde Februarie 2026 het Dis-Chem ‘n inkomste van R42,8 miljard gerapporteer, ‘n toename van 9,3% teenoor die vorige jaar, terwyl die groep sy markaandeel in sy belangrikste kleinhandelkategorieë verder vergroot het.
Morais het in die jongste jaarverslag gesê die 2026-boekjaar verteenwoordig “die einde van ‘n era” vir Dis-Chem ná Ivan Saltzman se uittrede uit die uitvoerende bestuur.
Volgens Morais het Ivan Saltzman se visie, deursettingsvermoë en toewyding om gesondheidsorg vir Suid-Afrikaners meer toeganklik te maak, die grondslag gelê vir die onderneming se ontwikkeling.
Die leierskapsoorgang is reeds etlike jare aan die gang. Morais, wat in 2010 by Dis-Chem aangesluit het, is in Julie 2023 as uitvoerende hoof aangestel nadat hy twee jaar tevore as aangewese uitvoerende hoof benoem is. Dit was die eerste keer dat iemand buite die stigtersfamilie die onderneming lei.
Die Saltzman-familie het die afgelope jaar ook hul aandeelhouding herstruktureer. In Junie 2025 het Dan en Mark Saltzman miljarde rande se Dis-Chem-aandele geërf as deel van dié proses. Daarna het hulle tussen Januarie en Februarie vanjaar aandele ter waarde van sowat R320 miljoen verkoop.
Hoewel Mark Saltzman steeds ‘n beduidende aandeelhouding het, het Dis-Chem hom in die verlede van hom gedistansieer ná plasings op sosiale media wat later verwyder is, waarvoor hy van rassisme en seksisme beskuldig is.
Bloomberg beraam die Saltzman-familie se gesamentlike rykdom op sowat $1,3 miljard.
Nog ‘n veteraan, Stanley Goetsch, wat 42 jaar lank by Dis-Chem werksaam was, het ook op 30 Junie as uitvoerende direkteur uitgetree.