NAIROBI – ’n Chinese burger is Woensdag deur ’n hof in Nairobi tot een jaar tronkstraf gevonnis en beboet nadat hy probeer het om duisende miere onwettig uit Kenia te smokkel – ’n winsgewende bedryf wat verlede jaar in Oos-Afrika ontbloot is.
Die insekte is hoofsaaklik bestem vir China, die Verenigde State en Europa, waar hulle as troeteldiere aangehou word en tot sowat $100 elk werd kan wees.
Mieresmokkelary het verlede jaar opslae gemaak toe twee Belgiese tieners in hegtenis geneem is met byna 5 000 miere in hul besit, meestal in proefbuise geberg. Hulle is met ongeveer $7 700 beboet.
Zhang Kequn, wat daarin geslaag het om arrestasie te ontduik totdat hy op 10 Maart aangekeer is, is ook verbind met ’n ander saak waarby ’n Viëtnamese en ’n Keniaanse burger betrokke was.
Meer as 2 200 miere – insluitend 1 948 van die gesogte messor cephalotes – is in proefbuise in Zhang se bagasie by Nairobi se internasionale lughawe gevind, met China as bestemming.
Hy is aanvanklik aangekla van onwettige wildhandel sonder ’n permit en sameswering, wat ’n moontlike tronkstraf van tot sewe jaar inhou, het sy prokureur gesê. Nadat die samesweringsklag teruggetrek is, het hy skuld erken.
Regter Irene Gichobi het Zhang in die hof in Nairobi beskryf as iemand sonder berou en “nie heeltemal eerlik nie”.
Sy het beslis dat hy met 1 miljoen Keniaanse sjielings (ongeveer $7 700) beboet word en een jaar tronkstraf opgelê word, onderhewig aan ’n appèltydperk van 14 dae. Daarna sal hy na sy land van herkoms teruggestuur word.
“Daar is ’n dringende behoefte aan ’n streng afskrikvonnis,” het sy gesê en verwys na die toenemende gevalle van grootskaalse handel in tuinmiere en die negatiewe ekologiese gevolge daarvan.
Intussen word die Keniaan Charles Mwangi (35) daarvan beskuldig dat hy miere aan drie van die vier persone wat verlede jaar skuldig bevind is, verkoop het.
Hy het onskuldig gepleit, en die saak duur voort, volgens sy regsverteenwoordiger.