Die voormalige Springbok-losskakel Joel Stransky is saam met die All Black-legende Zinzan Brooke in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem.
Stransky, wat 22 toetswedstryde vir Suid-Afrika gespeel het, het sy naam onuitwisbaar in die land se rugbygeskiedenis geskryf met sy vertoning in die eindstryd van die Rugbywêreldbeker in 1995.
Hy het al 15 punte vir Suid-Afrika in die eindstryd teen Nieu-Seeland aangeteken. Sy beroemde skepskop in ekstra tyd het die Springbokke ’n 15-12-oorwinning besorg en hul Wêreldbeker-oorwinning verseker.
Stransky word die 176ste lid wat in die Heldesaal opgeneem word.
Brooke, wat as agsteman vir die All Blacks uitgedraf het, word die 177ste lid van die Heldesaal.
Hy het 58 toetswedstryde vir Nieu-Seeland gespeel en was deel van die All Blacks-span wat die Rugbywêreldbeker in 1987 gewen het.
Brooke was bekend vir sy aanvallende vernuf. Een van sy onvergeetlikste oomblikke was sy 38 meter-skepskop teen Engeland in die halfeindstryd van die 1995-Wêreldbeker.
Nog vyf lede sal op 7 September aangekondig word, wat die totale aantal vereerdes in Wêreldrugby se Heldesaal op 182 te staan sal bring.