Toe die negejarige Johannes van Heerden Saterdag ná die eindfluitjie op die FNB-stadion se veld afpyl met veiligheidswagte kort op sy hakke, het hy net een doel gehad: om Siya Kolisi se handtekening te kry. Die jong rugbyspeler van Klerksdorp het uiteindelik met die Springbok-kaptein se getekende wedstrydbroek van die veld gestap.

Johannes het ná Suid-Afrika se oorwinning oor die All Blacks die veld opgehardloop om Kolisi te probeer bereik. ’n Veiligheidswag het hom egter onderskep voordat hy by die Bok-kaptein kon uitkom.

Kolisi het gesien wat gebeur en nader gekom. Hy het Johannes se hemp geteken, waarna hy die seun gevra het of hy sy wedstrydbroek wou hê. Kolisi het die broek uitgetrek en aan hom oorhandig.

Toe veiligheidsbeamptes Johannes van die veld begin begelei, het Kolisi hom teruggeroep en ook die broek geteken.

Die aandenking word nou in die kluis van Johannes se pa, Pieter van Heerden, bewaar.

Ma was bekommerd

Johannes se ma, Isabeau van Heerden, sê haar seun was reeds voor die einde van die wedstryd vasbeslote om ’n handtekening te kry.

Sy ouers het aanvanklik nie besef wat hy beplan nie. Toe hulle hom weer sien, was hy reeds op die veld.

“Ek was bekommerd. Ek het gedink hulle gaan hom duik of hy gaan in die tronk slaap.”

Volgens haar het die gesin glad nie verwag dat Kolisi sy wedstrydbroek aan Johannes sou gee nie.

“Ons het nie verwag Siya gaan sy broek uittrek nie,” sê sy.

Johannes het ook klomp handtekeninge op sy hemp gehad van onder andere Damian Willemse en Cheslin Kolbe.

Droom van die Groen-en-goud

Johannes speel self rugby as senter of heelagter vir Laerskool Saamtrek. Sy pa en oupa is ywerige rugbyondersteuners en hy droom daarvan om eendag self in die Groen-en-goud uit te draf.

Volgens sy ma het Johannes, toe die gesin ná die wedstryd in die motor klim, gesê dit was die beste dag van sy lewe.

Verskeie mense het intussen aangebied om die wedstrydbroek te koop, maar Johannes is nie van plan om daarvan afstand te doen nie.

“Ek gaan dit beslis nie was nie,” sê hy. “Dit is in my pa se kluis. Ons gaan dit raam en in my Springbok-kamer ophang.”

Mylpaal vir Kolisi

Die wedstryd was ook Kolisi se 55ste toets as Springbok-kaptein, waarmee hy John Smit se vorige rekord van 54 toetswedstryde as kaptein verbygesteek het.

Suid-Afrika se oorwinning het die Springbokke ’n 2-1-voorsprong in die reeks van vier toetse teen Nieu-Seeland besorg.

Vir Johannes het die dag ’n besondere aandenking opgelewer: die handtekening waarvoor hy die veld opgehardloop het én Kolisi se getekende wedstrydbroek.