WASHINGTON – Die Amerikaanse visepresident JD Vance en sy vrou, Usha Vance, het Sondagoggend hul vierde kind, ‘n seuntjie, verwelkom.
Vance het op sosiale media aangekondig dat die baba Alec Neel Vance heet.
“Usha en die baba is gelukkig en gesond, en ons kinders is verheug om hul kleinboet te ontmoet,” het hy geskryf. Hy het ook die militêre dokters en personeel van Walter Reed Mediese Sentrum bedank vir hul sorg.
Volgens die Associated Press is dit die eerste keer in meer as 150 jaar dat ‘n sittende Amerikaanse visepresident ‘n kind tydens sy ampstermyn verwelkom.
Die egpaar het reeds drie ander kinders: Ewan (9), Vivek (6) en Mirabel (4).
Usha Vance, gebore Usha Chilukuri, het in die werkersklasvoorstede van San Diego in Kalifornië grootgeword. Haar ouers het vanuit die Indiese deelstaat Andhra Pradesh na die Verenigde State geëmigreer. Haar pa is ‘n meganiese ingenieur en haar ma ‘n molekulêre bioloog.
Sy en JD Vance het mekaar in 2010 aan die Yale-regskool ontmoet toe hulle aan ‘n besprekingsgroep oor die “sosiale agteruitgang in wit Amerika” deelgeneem het.
Vance is een van die Trump-administrasie se sterkste voorstanders van hoër geboortesyfers in die Verenigde State.
In sy onlangs gepubliseerde boek skryf hy dat Usha aanvanklik nie nog ‘n kind wou hê nie, maar later van plan verander het nadat sy vriend, die konserwatiewe beïnvloeder Charlie Kirk, verlede jaar doodgemaak is.
“Nie lank nadat ons my vriend begrawe het nie, het sy swanger geraak met ons vierde kind, ‘n seun. Een lewe is van ons weggeneem, maar ‘n ander is aan ons gegee,” skryf Vance.