Die Amerikaanse visepresident, JD Vance, het sy beplande besoek aan Switserland uitgestel waar verdere gesprekke oor die VSA-Iran-ooreenkoms sou plaasvind. Volgens die Withuis is die volgende stappe in die vredesproses nog nie finaal uitgewerk nie.
Iran se opperleier, Ajatolla Mojtaba Khamenei, het intussen bevestig dat hy die ooreenkoms goedgekeur het, hoewel hy na bewering sekere voorbehoude daaroor het.
Die ooreenkoms is Woensdag deur die Amerikaanse president, Donald Trump, en die Iranse president, Masoud Pezeshkian, onderteken. Dit stel ’n tydperk van 60 dae in werking waartydens verdere onderhandelinge oor onder meer Iran se kernprogram gevoer sal word.
Daar is egter steeds onsekerheid oor hoe die proses verder gaan verloop. Dit lyk ook onwaarskynlik dat die twee lande Vrydag soos aanvanklik aangekondig in Switserland vir ’n formele ondertekeningsgeleentheid en gesprekke sal vergader.
’n Woordvoerder van die Withuis het gesê die logistiek van die onderhandelinge was nog nooit eenvoudig of voorspelbaar nie.
In Iran het die nuusagentskap Tasnim berig dat geen besluit oor ’n Iranse afvaardiging na Switserland nog bevestig is nie.
Khamenei, wat opperleier geword het nadat sy vader, Ali Khamenei, op die eerste dag van die oorlog in Februarie in ’n lugaanval dood is, het gesê hy het die ooreenkoms goedgekeur omdat Iranse amptenare hom verseker het dat die land se regte beskerm sal word.
Hy het bygevoeg dat toekomstige gesprekke van aangesig tot aangesig met die VSA nie beteken dat Iran die Amerikaanse standpunt aanvaar nie.
Iran se hoofonderhandelaar, Mohammad Bagher Ghalibaf, het Vrydag gewaarsku dat enige verbreking van die ooreenkoms ’n sterk reaksie sal uitlok.
“In die geval van wanoptrede, verdragbreuk of oortredings deur die ander kant, twyfel ons nie dat ’n beslissende reaksie sal volg nie,” het hy gesê.
Die Amerikaanse weermag het intussen bevestig dat die vlootblokkade van Iranse hawens opgehef is, hoewel Amerikaanse oorlogskepe steeds in die gebied sal bly.
Skeepsverkeer deur die Straat van Hormuz bly egter beperk. Drie Saoedi-Arabiese olietenkwaens en ’n Franse skip met vloeibare aardgas het Donderdag deur die seestraat gevaar.
Iranse staatsmedia het berig dat skepe wat deur die Straat van Hormuz wil vaar, voortaan by ’n nuwe regeringsliggaam moet aansoek doen. Geen fooie sal egter vir die eerste 60 dae gehef word nie.
Die ooreenkoms behoort die huidige konflik tussen die VSA, Israel en Iran te beëindig. Die oorlog het vyf weke geduur voordat ’n skietstilstand in April bereik is.
Nie almal glo egter die vrede sal hou nie.
“Ek het geen hoop dat dit ’n blywende ooreenkoms is nie. Miskien begin hulle ná die 60 dae weer veg,” het Mina, ’n 54-jarige sielkundige van Teheran, gesê.
Die Franse president, Emmanuel Macron, wat die ondertekening van die ooreenkoms by Versailles bygewoon het, deel dié kommer.
“Ek glo nie die oorlog is heeltemal verby nie,” het Macron gesê.
Volgens die ooreenkoms sal die VSA onmiddellik sekere oliesanksies teen Iran opskort. Sodra ’n finale ooreenkoms oor Iran se kernprogram bereik word, sal Washington ook help om ’n heropboufonds van 300 miljard dollar beskikbaar te stel.
Trump se besluit om die oorlog te beëindig, het egter kritiek uit sommige geledere in die VSA ontlok.
Die Republikeinse senator Bill Cassidy het dit die grootste buitelandse beleidsfout in dekades genoem.
Trump het dié kritiek verwerp en gesê verdere bombardemente sou geen voordeel inhou nie.
“Die enigste manier waarop ek harder kon optree, was om nog twee of drie weke aan te hou bombardeer. Maar wat sou dit ons bring? Die Straat van Hormuz sou nie oop wees nie.
“Ons sou maande lank sonder olie gewees het. Dit is die soort ding wat ’n wêreldwye depressie kan veroorsaak,” het hy gesê.
Daar is ook kritiek vanuit sekere kringe in Iran, waar die oorlog as ’n opgelegde konflik beskryf word.
Ghalibaf hou egter vol dat die ooreenkoms ’n mislukking vir die VSA verteenwoordig, terwyl president Pezeshkian dit as “histories” beskryf het.