’n Hittegolf sal Woensdag oor verskeie dele van Suid-Afrika voortduur, met aanhoudend hoë temperature wat volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) tot Vrydag kan aanhou.
Die hittegolf raak Noordwes, die grootste deel van die Vrystaat, die suidelike dele van Gauteng en die noordooste van die Noord-Kaap.
Volgens die SAWD sal Noordwes en die Vrystaat, buiten die suidwestelike dele van die provinsie, tot Vrydag aanhoudend hoë temperature ervaar.
In Gauteng word gedeeltelik bewolkte en warm tot baie warm toestande verwag. Die UVB-sonbrandindeks sal ook baie hoog wees.
Noordwes sal meestal helder en warm tot baie warm wees, met gedeeltelike bewolking wat later in die dag oor die oostelike dele kan ontwikkel.
Soortgelyke toestande word in die Vrystaat verwag, waar warm tot baie warm weer sal voorkom voordat wolke later oor die oostelike dele ontwikkel.
Die Weerdiens waarsku ook teen uiters hoë brandgevaar oor verskeie dele van die land.
Dit geld oor groot dele van die Noord-Kaap, die oostelike dele van Noordwes en die Vrystaat, asook die noordoostelike dele van die Wes-Kaap.
Dele van die suidwestelike Bosveld in Limpopo word ook geraak.
In die Oos-Kaap geld die waarskuwing onder meer vir die plaaslike munisipaliteite Dr Beyers Naudé, Inxuba Yethemba en Walter Sisulu.
Die warm en droë toestande verhoog die gevaar van veldbrande, veral in gebiede waar plantegroei reeds droog is.
In Limpopo word helder en warm tot baie warm toestande verwag, met gedeeltelike bewolking wat later in die middag oor die suidwestelike dele kan ontwikkel.
Mpumalanga sal aanvanklik misbanke oor die grootste deel van die provinsie ervaar, waarna dit helder en warm tot baie warm sal word. Die uiterste westelike dele kan gedeeltelik bewolk wees.
In die Noord-Kaap word bewolkte toestande met oggendmis langs die kus en aangrensende binneland verwag.
Elders in die provinsie sal dit meestal helder en warm tot baie warm wees, hoewel die westelike dele plek-plek koeler kan wees.
Fris sterk suid- tot suidoostelike winde word langs die kus verwag.
In die Wes-Kaap sal dit oor die uiterste suidweste gedeeltelik bewolk tot bewolk en koel tot warm wees. Dié toestande sal vanaf die middag langs die suidkus en aangrensende binneland versprei.
Die res van die provinsie sal helder en warm wees, met ’n hoë UVB-sonbrandindeks.
Die Oos-Kaap sal oorwegend helder en warm tot warm wees, met baie warm toestande plek-plek in die noordelike dele van die westelike helfte.
Die oostelike helfte plek-plek suid van die platorand gedeeltelik bewolk kan raak.
KwaZulu-Natal sal helder en warm wees, met gedeeltelike bewolking wat later in die middag oor die suidelike dele ontwikkel.
Matige noordelike tot noordoostelike winde word langs die kus verwag. In die suide sal die wind later na suidwes draai en teen die aand in die rigting van Mtunzini versprei.
KwaZulu-Natal sal ook ’n uiters hoë UVB-sonbrandindeks ervaar, wat die gevaar van sonbrand tydens buitelugaktiwiteite verhoog.
Geen impakgebaseerde waarskuwings vir ernstige weer is egter vir Woensdag uitgereik nie.
Inwoners in gebiede wat deur die hittegolf geraak word, word aangeraai om genoeg water te drink, langdurige blootstelling aan direkte sonlig te beperk en versigtig met oop vure te werk.