Die Forum vir Suid-Afrika (Fosa) doen ’n hernude beroep dat die doodstraf weer ingestel word vir persone wat opsetlik en met voorbedagte rade onskuldige mense vermoor. Hierdie oproep volg nadat Mohammed Kachalia, minister van polisie, Vrydag die nuutste misdaadstatistieke bekend gemaak het wat toon dat 64 mense élke dag in Suid-Afrika vermoor word.
Volgens Tebogo Mashilompane, Fosa se nasionale leier, is hierdie syfers ’n pynlike herinnering dat Suid-Afrika “onder beleg” verkeer en dat die reg op lewe, soos beskryf in artikel 11 van die Grondwet, “daagliks met straffeloosheid geskend word”.
Mashilompane sê dat wanneer 64 lewens daagliks geneem word, dit duidelik is dat die huidige stelsel nie meer die lewe beskerm nie. “Dit is ’n ernstige teken van ’n land in krisis,” sê hy.
Hy herinner daaraan dat Fosa reeds in Junie ’n formele voorlegging aan die parlement gedoen het tydens dié liggaam se oorweging van moontlike wysigings aan die Grondwet. In daardie voorlegging het Fosa benadruk dat die reg op lewe sterker beskerm moet word, en dat mense wat doelbewus en opsetlik lewe neem die hoogste moontlike gevolge moet dra.
Maar tot dusver, sê Mashilompane, het die parlement tot vandag toe nog nie op die voorlegging gereageer nie.
“Ons voorlegging is eenvoudig geïgnoreer,” sê hy. “Daarom versterk ons nou ons oproep. Die doodstraf moet teruggebring word — spesifiek vir persone wat doelbewus onskuldige mense vermoor.”
Mashilompane beklemtoon dat die oproep nie op vergelding ingestel is nie, maar op geregtigheid. “Dit is nie wraak nie,” sê hy. “Dit is ’n beroep op geregtigheid, op afskrikking, en op die herstel van die heiligheid van menslike lewe. Suid-Afrikaners kan nie voortleef in vrees terwyl gewelddadige misdadigers doen wat hulle wil sonder ernstige gevolge nie.”
Hy sê Fosa staan vierkantig aan die kant van slagoffers en hul families.
“Ons staan saam met dié saam met slagoffers, hul gesinne, en elke wetsgehoorsame burger wat veiligheid, waardigheid en geregtigheid verdien,” aldus Mashilompane.