Die Stad Kaapstad gaan binnekort die eerste 2 200 van sowat 6 000 bobbejaanbestande vullisdromme beskikbaar stel in gebiede waar van die meeste konflik tussen mense en bobbejane voorkom.
Die dromme is ontwerp om dit aansienlik moeiliker vir bobbejane te maak om toegang tot huishoudelike afval te kry.
Greg Oelofse van die Cape Peninsula Baboon Management Joint Task Team erken egter dat dit geen maklike taak is om bobbejane uit vullisdromme te hou nie.
“Ek weet nie of daar enigiets is wat 100% bobbejaanbestand is nie,” het hy gesê.
Die eerste dromme sal versprei word in gebiede wat Plateau Road, Castle Rock, Heron Park, Murdoch Valley, Capri, Welcome Glen, Scarborough en Firgrove insluit.
Elke drom het twee knippe en kan ook met ’n hangslot gesluit word.
Volgens Oelofse is dit belangrik dat inwoners die dromme gesluit hou terwyl dit op hul eiendom staan én wanneer dit op straat vir vullisverwydering geplaas word.
Die vullisvragmotors is toegerus met ’n meganisme wat die sluitstelsel outomaties vrystel wanneer die drom opgelig word.
Oelofse waarsku egter dat bobbejane “buitengewoon slim” is.
Omdat die dromme van plastiek gemaak is, kan die materiaal volgens hom meegee indien bobbejane dit omstamp en herhaaldelik daarop spring. Oelofse sê hulle hoop nietemin dat die dromme bobbejane se toegang tot menslike afval aansienlik sal verminder.
Die oorblywende dromme sal beskikbaar gestel word sodra die kontrakteur dit kan lewer. Ocean View sal na verwagting een van die volgende gebiede wees wat die dromme ontvang.
Indien die program suksesvol is om bobbejane se toegang tot menslike afval te verminder, kan dit volgens Oelofse verder uitgebrei word na ander gebiede waar dit nodig is.
Die sowat 6 000 dromme wat reeds toegeken is, behoort volgens hom voldoende te wees om die primêre gebiede waar bobbejaantroppe aan die stedelike grens voorkom, omvattend te bedien.
Werk aan ’n bobbejaanbestande grensheining van Zwaanswyk tot Constantia Nek sal na verwagting later vandeesmaand begin.
Volgens Oelofse kan die heining ’n gebied van ongeveer 1 000 hektaar vir die bobbejane beveilig.
Hy hoop dit kan tot ’n beter toekoms lei waarin “bobbejane net bobbejane kan wees en gelos kan word om hul ding te doen”.
Terugspore/Pingbacks