PRETORIA – Die Springbokkaptein, Pieter-Steph du Toit, glo die entoesiasme van die jonger spelers sal die Springbokke goed te staan kom wanneer hulle Saterdag met ‘n aansienlik veranderde span teen Skotland op Loftus Versfeld uitdraf.
Springbokafrigter Rassie Erasmus het 10 veranderinge aan die span aangebring wat verlede week Engeland geklop het vir die tweede wedstryd van die Nasieskampioenskap.
Du Toit se 96 toetse maak die helfte van die voorspelerspak se gesamentlike toetservaring uit. Hy vorm die losvoorspelersdrie saam met Paul de Villiers, wat net een toets gespeel het, en Evan Roos, wat agt toetse agter sy naam het.
Volgens Du Toit beteken die gebrek aan internasionale ervaring nie dat die span swakker is nie.
“Ek raak eintlik meer opgewonde wanneer ek na die spelers met minder toetse kyk,” het die tweemalige Wêreldrugbyspeler van die Jaar gesê.
“Ek onthou hoe dit gevoel het toe ek in daardie posisie was. Jy stap met ongelooflike opgewondenheid op die veld. Hierdie spelers kry die geleentheid om vir die Springbokke op Loftus teen Skotland te speel en hulle sal vol energie wees en gretig wees om hulself te bewys. ‘n Speler wat iets wil bewys, is gevaarlik, want hy sal alles vir die span gee.”
Du Toit, wat die span teen Skotland aanvoer, sê hy ervaar geen ekstra druk nie.
“Ons het uitstekende stelsels wat die span rig, en nuwe spelers leer dit baie vinnig. Ek is al ‘n paar jaar deel van die Springbok-opset en het baie by vorige kapteins, soos Siya Kolisi, geleer.”
Hy glo goeie leierskap word eerder deur dade as deur woorde bewys.
“Ek glo vas dat dade harder praat as woorde. Dit is hoe ek grootgemaak is, en dit is hoe jy as Springbok leiding gee.”
Oor sy jong losvoorspelersmaats het Du Toit gesê De Villiers en Roos verdien hul geleentheid.
“Om die Springboktrui aan te trek, is ‘n ongelooflike eer. Paul en Evan is spelers van hoë gehalte en ‘n mens kan sien hoe graag hulle vir Suid-Afrika wil speel.”
Hy sê die twee spelers ken hul rolle binne die span se stelsel en moet nou hul eie aanslag byvoeg.
“Die span het ‘n plan. Die beste ding wat hulle kan doen, is om uit te gaan en hulself uit te leef. Hulle weet presies wat van hulle verwag word en moet net daardie bietjie X-faktor byvoeg.”
Met sy 100ste toets wat nader kom, sê Du Toit sy geheim is om dinge eenvoudig te hou.
“Een van my sterk punte is dat ek nie te veel probeer dink nie,” het hy laggend gesê.
“Wanneer jy te veel dink, maak jy dinge onnodig ingewikkeld. As jy te ver vooruit dink, plaas jy net ekstra druk op jouself.”