Spanje het Vrydag groot opslae gemaak deur Suid-Afrika se Blitzbokke in hul Hongkong-wedstryd te klop en daarmee die sewesreeks op sy kop te keer.
Die Spanjaarde het die Groep A-kragmeting met 31-12 gewen, terwyl Suid-Afrika vroeër hard moes werk om Uruguay met 12-7 te oorrompel.
Vir Spanje is dié oorwinning ’n reuse hupstoot. Die Blitzbokke was tot dusver die dominante span in die SVNS-reeks en het reeds die ligafase gewen, met vier toernooititels uit ses.
Dit was die 36ste ontmoeting tussen die twee spanne in die reeks, en slegs die derde keer dat Spanje daarin kon slaag om Suid-Afrika te klop.
Spanje het van vroeg af die botoon gevoer toe Tobias Sainz-Trapaga ’n drie gedruk het en dit self verdoel het om die telling 7-0 te maak. Net voor rustyd het hulle weer gaan druk en met ’n 14-0 voorsprong gaan rus.
Die Blitzbokke het in die eerste helfte min kanse benut en selfs ’n strafskop naby die doellyn nie in punte omskep nie, wat hul druk verder verhoog het.
Kort ná die hervatting het Spanje hul voorsprong uitgebrei toe Sainz-Trapaga sy tweede drie gedruk het, wat die telling tot 19-0 geneem het en Suid-Afrika onder groot druk geplaas het.
Suid-Afrika se laaste groepswedstryd vind Saterdag om 04:39 teen Argentinië plaas. Die Argentyne is nog onoorwonne nadat hulle Spanje (38-14) en Uruguay (40-19) oortuigend geklop het.
Punte:
Spanje 31 (14) – Drieë: Tobias Sainz-Trapaga (2), Eduardo Lopez (2), Jeremy Trevithick. Doelskoppe: Francisco Cosculluela, Juan Ramos (2).
Suid-Afrika 12 (0) – Drieë: Shilton van Wyk, Donovan Don. Doelskop: Ronald Brown.