President Cyril Ramaphosa het onlangs weer die bekende refrein herhaal: Suid-Afrika is gebore uit ’n pynlike verlede en streef nou na ’n wêreldorde van vrede, vriendskap en geregtigheid. Dit klink edel.
Die uitsprake het gekom tydens ’n geleentheid waar die president 20 nuut aangestelde ambassadeurs verwelkom het—’n simboliese oomblik van diplomatieke verhoudings en internasionale samewerking. Onder hulle was ook die Verenigde State se nuwe ambassadeur, Leo Brent Bozell, wat sy geloofsbriewe aan Ramaphosa oorhandig het.
Bozell het belowe om die gedeelde belange en waardes tussen Suid-Afrika en die VSA te versterk, en selfs gesê hy wil die verhouding na “plekke neem waar dit nog nooit tevore was nie”. Dit alles speel egter af teen ’n agtergrond van gespanne betrekkinge tussen die twee lande—’n werklikheid wat skerp kontrasteer met die president se praatjies van wêreldvrede en vriendskap.
In dieselfde asem het Ramaphosa ook Suid-Afrikaanse ambassadeurs in die buiteland gemaan om nooit hul gaslande publiek of op ’n konfronterende wyse te kritiseer nie, maar eerder probleme “privaat en konstruktief” aan te spreek. Op papier klink dit diplomaties verstandig.
Terwyl Ramaphosa voor die ambassadeurs praat van  onderhandeling en globale samewerking, broei die probleme tuis voort. Misdaad bly buite beheer, infrastruktuur verbrokkel en ekonomiese druk knel gewone Suid-Afrikaners elke dag meer vas.
Uiteindelik is die vraag eenvoudig: bou Suid-Afrika werklik aan die wêreldorde waarvan Ramaphosa praat, of is dit net nog ’n mooi verhaal wat goed klink in ’n toespraak, maar min beteken op straatvlak?
Vir baie Suid-Afrikaners voel dit al hoe meer soos laasgenoemde.