’n Regter in Utah het beslis dat aanklaers die doodstraf mag eis in die verhoor van die 23-jarige Tyler Robinson, wat ontken dat hy die konserwatiewe aktivis Charlie Kirk vermoor het.
Robinson het Dinsdag in ’n hof in Provo onskuldig gepleit op aanklag van verswarende moord, waarvoor die doodstraf in Utah opgelê kan word, asook ses ander aanklagte wat met Kirk se dood verband hou.
Kirk (31), medestigter van Turning Point USA (TPUSA), is op 10 September 2025 in die nek geskiet terwyl hy tydens ’n geleentheid by Utah Valley University in Orem gepraat het.
Robinson se regspan het probeer om die moontlikheid van die doodstraf uit te skakel. Aanklaers het egter aangevoer dat verswarende omstandighede ’n verhoor waarin die doodstraf geëis kan word, regverdig.
Hulle voer onder meer aan dat ’n skoot in die rigting van Kirk afgevuur is terwyl hy deur ’n skare omring was en kinders teenwoordig was.
Robinson het in ’n grys pak in die hof verskyn en van tyd tot tyd met sy regsverteenwoordigers beraadslaag.
Kirk se weduwee, Erika, die ma van hul twee kinders, asook sy ouers, Robert en Kathryn, het die verrigtinge bygewoon.
Die Kirk-familie het ná die beslissing gesê dit is “’n belangrike stap” in hul strewe na geregtigheid.
“Elke stap in hierdie proses dra die gewig van alles wat Charlie se moord van sy familie weggeneem het, veral sy kinders wat sonder hul pa sal grootword,” het die familie gesê.
Die argumente Dinsdag volg op ’n vyf dae lange voorlopige verhoor in Julie waartydens aanklaers hul getuienis uiteengesit het om waarskynlike gronde vir ’n verhoor aan te toon.
Aanklaer Ryan McBride het Dinsdag gesê daar is ’n “berg van bewyse” wat volgens die staat daarop dui dat Robinson die skieter was.
Die staat steun onder meer op videomateriaal, DNS-bewyse, beweerde erkennings deur Robinson en omstandigheidsgetuienis.
Volgens getuienis wat in Julie aangebied is, is Robinson se DNS na bewering gevind op sy oupa se geweer wat ná die skietery in ’n beboste gebied naby die kampus versteek was. Sy DNS is volgens aanklaers ook op ’n handdoek waarin die geweer toegedraai was en op ’n skroewedraaier wat op die toneel gevind is, aangetref.
McBride het ook gesê gravures wat op patroondoppies van die skietery gevind is, stem na bewering ooreen met dié wat met ’n Dremel-gereedskapstuk gemaak kon word wat by die woning gevind is wat Robinson met sy kamermaat gedeel het.
Aanklaers beweer Robinson, ’n voormalige vakleerling-elektrisiën, het Kirk se konserwatiewe standpunte, veral oor transgenderkwessies, as “afstootlik” beskou. Hulle voer aan dat dit die motief vir die skietery was.
Die staat beweer ook dat Robinson die kampus op die dag van die skietery herhaaldelik verken het. Hy sou met TPUSA-lede gepraat en geëet het voordat hy later in ander klere teruggekeer het.
Volgens McBride het hy ’n langbroek gedra om die geweer wat hy na bewering in sy broek versteek het, te verberg.
Aanklaer Chad Grunander het aangevoer dat Robinson ander mense se lewens in gevaar gestel het deur in Kirk se rigting te skiet terwyl hy deur mense omring was.
Hy het dit as ’n soort “ballistiese roulette” beskryf.
Robinson se prokureurs het die aanklaers se getuienis bevraagteken. Tydens die voorlopige verhoor in Julie het hulle onder meer vrae oor prosedures en die kwalifikasies van deskundige getuies geopper.
Die verdediging het Dinsdag ook aangevoer dat niemand in die skare buiten Kirk deur ’n koeël getref is nie en het daarmee probeer om die staat se argument oor verswarende omstandighede te verswak.
Robinson se regspan het herhaaldelik beswaar gemaak teen kameras wat die hofverrigtinge regstreeks uitsaai. Regter Tony Graf het Dinsdagoggend tydens ’n geslote sitting weer argumente oor die kwessie aangehoor voordat die slotbetoë begin het. Hy het daarna ten gunste van deursigtigheid beslis.
In ’n video-opname van ’n onderhoud met aanklaers het Robinson se kamermaat en romantiese lewensmaat, Lance Twiggs, volgens die bron gesê Robinson het die skietery teenoor hom erken, gehuil en gesê hy wens hy het dit nie gedoen nie. Die opname is tydens die Julie-verrigtinge gespeel.
Robinson het hom die dag ná Kirk se dood, in die teenwoordigheid van sy familie en ’n buurman, aan die owerhede oorgegee.
Hy moet weer op 23 Oktober in die hof verskyn, wanneer ’n datum vir sy verhoor na verwagting bepaal sal word.