EFF-leier Julius Malema is aangesê om teen 30 September in die Nasionale Vergadering om verskoning te vra oor sy ondervraging van regter Elias Matojane tydens ’n onderhoud van die Regterlike Dienskommissie (RDK) in 2021.
Die besluit volg nadat Malema nie gehoor gegee het aan ’n vroeëre opdrag om verskoning te vra nie. Die speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza, het die aangeleentheid daarna na die parlementêre komitee oor magte en voorregte verwys.
Die geskil spruit uit RDK-onderhoude in April 2021, toe Matojane, destyds ’n regter van die hooggeregshof in Gauteng, vir aanstelling in die Hoogste Hof van Appèl meegeding het.
Malema, wat destyds ’n lid van die RDK was, het Matojane uitgevra oor sy uitspraak dat die EFF R500 000 aan die voormalige minister van finansies, Trevor Manuel, moes betaal.
Lawson Naidoo, uitvoerende sekretaris van die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet, het daarna ’n klag by die parlement se etiekkomitee ingedien.
Die etiekkomitee het in November 2021 bevind dat Malema verskeie bepalings van die etiese gedragskode en openbaarmakingsreëls vir lede oortree het. Daar is besluit dat hy in die Nasionale Vergadering teenoor Matojane en die RDK om verskoning moet vra.
Die Nasionale Vergadering het die etiekkomitee se verslag en aanbevelings in Desember 2021 aanvaar.
Malema het in Februarie 2022 ’n hersieningsaansoek by die Wes-Kaapse hooggeregshof ingedien om die besluit te betwis.
Die hof het sy aansoek in Mei 2025 van die hand gewys en bevind dat al vyf sy gronde vir hersiening sonder meriete was.
Didiza het Malema vervolgens in Desember 2025 aangesê om nie later nie as Februarie 2026 sy verskoning in die Nasionale Vergadering aan te bied en die nodige reëlings daarvoor te tref.
Weziwe Tikana-Gxotiwe, voorsitter van die komitee oor magte en voorregte, sê Malema se versuim om die verskoning aan te bied, het daartoe gelei dat Didiza die aangeleentheid twee maande gelede na die komitee verwys het.
Tikana-Gxotiwe het Malema gevra om teen 25 Augustus skriftelik te reageer op bewerings dat hy hom aan minagting van die parlement skuldig gemaak het.
Malema het reeds op 11 Augustus geantwoord en aangedui dat hy teenoor Matojane en die RDK om verskoning sal vra. Hy het ook gevra dat ’n datum aan hom verskaf word waarop hy die verskoning kan aanbied.
Die komitee het besluit dat Malema die verskoning, soos reeds in Desember 2021 deur die Nasionale Vergadering bepaal, nie later nie as 30 September 2026 moet aanbied.
Hy moet met die speaker se kantoor reël dat die verskoning voor dié sperdatum in die Nasionale Vergadering aangebied word.
EFF-LP Sinawo Thambo moet op dieselfde dag in ’n afsonderlike aangeleentheid om verskoning vra.
Die voormalige DA-hoofsweep George Michalakis het vroeër vanjaar ’n klag van minagting van die parlement teen Thambo ingedien. Die saak is na die komitee oor magte en voorregte verwys nadat ’n beëdigde verklaring ter ondersteuning van die klag van DA-LP Kevin Mileham ontvang is.
Hoewel Thambo se weergawe van die gebeure volgens Tikana-Gxotiwe van dié van die klaer verskil, het hy spyt uitgespreek oor enige aanstoot wat hy Mileham of enigiemand wat met hom verbind word, kon gegee het.
Die komitee het Thambo aangesê om ook teen 30 September in die Nasionale Vergadering teenoor Mileham om verskoning te vra en die nodige reëlings met die speaker se kantoor daarvoor te tref.