Nooddienspersoneel in Mount Vernon het Maandag ’n onverwagse verrassing gekry toe ’n 26-jarige vrou wat aanvanklik vir ’n weggegooide lyk aangesien is, wakker geword en verduidelik het dat sy net daar geslaap het.
Reaction Unit South Africa (RUSA) sê twee afsonderlike oproepe het die organisasie om hulp genader omdat hulle geglo het dat ’n menslike liggaam in die gebied gestort is.
Reaksiebeamptes en RUSA-paramedici is na die toneel ontbied om ondersoek in te stel.
Daar het hulle ’n persoon aangetref wat styf in ’n wit doek toegedraai op ’n wal langs ’n ongeplaveide pad gelê het. Dit het vrese laat ontstaan dat iemand se liggaam daar agtergelaat is.
Dié vermoede het egter vinnig verdwyn toe nooddienspersoneel die persoon begin ondersoek het.
“Die 26-jarige vrou het gereageer en verduidelik dat sy geslaap het,” het RUSA gesê.
Daarmee is die aanvanklike vermoede dat ’n lyk langs die pad gestort is, uit die weg geruim.
Die vrou wou volgens RUSA nie verduidelik waarom sy op dié plek geslaap het nie.
“Sy het geweier om verdere inligting te verskaf, haarself met die doek toegemaak en weer geslaap,” het die organisasie gesê.