Rusland het Brittanje gewaarsku dat sy toenemende betrokkenheid by die oorlog in Oekraïne “gevolge” sal hê nadat bevestig is dat Brits vervaardigde hommeltuie gebruik is om teikens binne Rusland aan te val.
Die Russiese ambassade in Brittanje het Londen daarvan beskuldig dat hy “doelbewus kies vir ’n eskalasie van die Oekraïne-krisis”.
Volgens die ambassade tree Brittanje daarmee op as ’n “medepligtige en mededader van bloedige misdade en terreuraanvalle”.
“Londen se optrede sal onvermydelik gevolge hê waarvoor hy rekenskap sal moet gee,” het die ambassade in ’n verklaring gesê. Rusland het bygevoeg dat hoe dieper Brittanje by die konflik betrokke raak, hoe hoër die prys sal wees wat hy volgens Moskou sal betaal.
Die waarskuwing volg nadat ’n militêre bron bevestig het dat hommeltuie wat deur twee Britse maatskappye vervaardig word, in Oekraïense aanvalle binne Rusland gebruik is.
Dié hommeltuie is volgens inligting gebruik om militêre en industriële teikens, waaronder olieraffinaderye en pakhuise, aan te val.
Oekraïne het ook herhaaldelik Wildberries, ’n groot Russiese aanlynhandelaar, se logistieke sentrums geteiken. Oekraïne beweer dat sewe van die onderneming se tien grootste logistieke sentrums buite werking gestel is.
Die aanvalle het volgens berigte meer as £35 miljard se ekonomiese skade aangerig.
Die Britse ministerie van verdediging het in reaksie gesê Brittanje staan “skouer aan skouer” met Oekraïne.
“Rusland moet geen twyfel hê oor hierdie regering se vasberadenheid om teen Russiese aggressie op te staan nie – in Oekraïne en teen die Verenigde Koninkryk en ons bondgenote,” het ’n woordvoerder gesê.
Brittanje sê hy bly daartoe verbind om Oekraïne van die toerusting te voorsien wat die land nodig het om hom teen die Russiese inval te verdedig.
Die Britse ministerie van verdediging het reeds in April aangekondig dat tienduisende hommeltuie aan Oekraïne verskaf sou word, waaronder langafstand-aanvalshommeltuie. Dit is as Brittanje se grootste pakket van dié aard tot nog toe beskryf.
Rusland se waarskuwing volg te midde van ’n nuwe vlaag aanvalle tussen die twee lande.
Russiese amptenare sê sowat 620 hommeltuie is gedurende die jongste aanvalle na die streek rondom Moskou gestuur. Russiese lugverdediging het volgens hulle meer as 180 daarvan vernietig, hoewel verskeie mense gewond is.
’n Wildberries-pakhuis naby Moskou is ook getref. Streeksgoewerneur Andrey Vorobyov het gesê ’n brand by die perseel is geblus, terwyl die maatskappy gesê het die logistieke kompleks het geringe skade opgedoen.
In Oekraïne is minstens twee mense volgens die streekgoewerneur Ivan Fedorov in Russiese aanvalle op Zaporizjzja dood en vier beseer. Hy het gesê Rusland het oor ’n tydperk van 24 uur 1 158 aanvalle op 59 nedersettings in die streek uitgevoer.
Die voorafgaande Saterdagnag het Oekraïne volgens Russiese amptenare sowat 822 hommeltuie na Rusland gestuur, waarvan 600 op Moskou gemik was. Sewe sterftes is volgens die aangeleverde inligting regoor Rusland aangemeld.
Russiese aanvalle op Oekraïne dieselfde nag het op hul beurt minstens sewe mense gedood en meer as 39 beseer.
Rusland het sy volskaalse inval in Oekraïne in Februarie 2022 begin en beheer tans ongeveer ’n vyfde van Oekraïense grondgebied.