’n Gewone Maandagoggend het in Summerstrand in ’n tragedie geëindig toe ’n 62-jarige vrou gesterf het ná ’n vermoedelik ontploffende kragopwekker by ’n koffiewinkel in Marine-rylaan in die Oos-Kaap.
Volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het die oorledene, Jo-Ann Pieters, kort voor 13:00 ernstige brandwonde opgedoen toe ’n kragopwekker glo ontplof het.
“Sy is per ambulans na ’n privaat hospitaal vervoer,” het kaptein Sandra Janse van Rensburg, woordvoerder van die SAPD, gesê.
Pieters is in ’n trauma-eenheid opgeneem, maar het ten spyte van mediese behandeling kort daarna aan haar beserings beswyk.
“Geen misdaad word op hierdie stadium vermoed nie. Die polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen, en die ondersoek duur voort om die presiese omstandighede van die voorval vas te stel,” het Janse van Rensburg gesê.