Die Matzikama-munisipaliteit het vir die tweede keer in minder as twee maande ‘n terugslag in die hooggeregshof beleef in sy stryd teen ‘n hofbevel wat daarop gemik is om boere en ander verskaffers by die munisipale varsproduktemark betyds betaal te kry.
Regter Andrew Reddy het die munisipaliteit en sy burgemeester se aansoek om verlof tot appèl teen ‘n tussentydse bevel van 12 Mei van die hand gewys.
Die saak spruit uit ‘n aansoek deur die Instituut vir Markagente van Suid-Afrika (Imasa), nadat die munisipaliteit na bewering versuim het om geld wat aan markagente en produsente verskuldig is, betyds oor te betaal.
In sy uitspraak het Reddy beklemtoon dat die munisipaliteit nie sy wetlike verpligtinge nagekom het nie. Die tussentydse bevel bly daarom onmiddellik van krag en word nie opgeskort terwyl verdere hofprosesse moontlik voortgaan nie.
Die bevel bepaal dat Imasa toesig moet hou oor betalings aan boere en ander verskaffers wat hul produkte by die Matzikama-varsproduktemark verkoop.
Die munisipaliteit bestuur die mark, waar markagente vars produkte namens produsente verkoop. Die opbrengs word in ‘n trustrekening gehou. Die munisipaliteit is slegs geregtig op ‘n kommissie van 5% van die bruto verkoopsbedrag, terwyl die oorblywende 95% aan die markagente betaal moet word, wat dit daarna binne vyf dae aan die produsente moet oorbetaal.
Volgens die hof het die munisipaliteit dié betalingsproses vir jare ontwrig deur nie die geld betyds uit die trustrekening oor te betaal nie. Regter Reddy het gesê dit plaas markagente in ‘n onmoontlike posisie omdat hulle nie hul eie betalingsverpligtinge teenoor produsente kan nakom nie.
Die uitspraak verwys ook na ‘n vorige hofbevel uit 2021 waarin die munisipaliteit reeds beveel is om die geld binne 48 uur aan markagente oor te betaal. Volgens Reddy het die munisipaliteit sedertdien steeds nie aan dié bevel voldoen nie.
In die aansoek om verlof tot appèl het die munisipaliteit aangevoer dat die tussentydse bevel sy grondwetlike bevoegdhede oor die bestuur van sy bankrekening beperk. Imasa het egter volgehou dat die trustgeld nie munisipale fondse is nie, maar geld wat namens produsente gehou word.
Reddy het saamgestem en beslis dat geld wat in ‘n trustrekening gehou word, nie die eiendom van die munisipaliteit word bloot omdat dit deur die munisipaliteit geadministreer word nie.
Hy het verder beklemtoon dat staatsinstellings ‘n besondere verantwoordelikheid het om hofbevele na te kom en gewaarsku dat die minagting van hofbevele die grondslag van die regstaat ondermyn.
Die hof het ook bevind dat die tussentydse bevel nie die munisipaliteit se bestuur van die mark oorneem nie, maar slegs daarop gemik is om te verseker dat produsente hul geld betyds ontvang.
Die munisipaliteit is gelas om die koste van die aansoek te betaal.