Vyf mense is dood en nog vyf ernstig beseer nadat ’n Amazon Air-vragvliegtuig Sondag tydens ’n landing by die Miami Internasionale Lughawe die aanloopbaan verlaat en verskeie voertuie getref het.

Drie van die vyf beseerdes is volgens Miami se brandweerhoof, Raied Jadallah, in ’n kritieke toestand. Dit is nog nie bekend of die oorledenes aan boord van die vliegtuig, op die grond of op albei plekke was nie.

Die Boeing 767-300-vragvliegtuig het kort voor 14:00 plaaslike tyd verongeluk nadat dit vanaf die Luis Muñoz Marín Internasionale Lughawe in San Juan, Puerto Rico, vertrek het.

Die vliegtuig is deur die Noord-Carolina-gebaseerde huurvlugmaatskappy 21 Air vir Amazon bedryf.

Volgens die lughawe het die vliegtuig aan die noordwestelike kant van die lughawe tot stilstand gekom.

Voertuie getref

Die vliegtuig het verskeie voertuie op die grond getref. Van die beseerdes was binne of onder voertuie vasgekeer en moes deur nooddienspersoneel bevry word.

Meer as 200 brandbestryders het op die ongeluk gereageer. Met hul aankoms het nooddienspersoneel die vliegtuig in vlamme en digte rook aangetref.

Die brand is geblus, maar daar was daarna steeds ’n brandstoflek op die ongelukstoneel.

Daniella Levine Cava, burgemeester van Miami-Dade County, het bevestig dat minstens vyf mense dood en vyf beseer is. Volgens haar het reddingswerkers binne sekondes ná die ongeluk op die toneel aangekom.

Oorsaak nog onbekend

Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie. Die National Transportation Safety Board (NTSB), wat lugvaartongelukke in die VSA ondersoek, sal die ondersoek behartig.

Volgens vlugdata het die vliegtuig teen ongeveer 112 knope, oftewel 207 km/h, beweeg toe dit die aanloopbaan verlaat het.

Daar was ligte donderstorms en rukwinde in Miami ten tyde van die ongeluk, maar daar is nog geen bevinding dat die weer die ongeluk veroorsaak het nie.

Amazon het sy medelye met die slagoffers en hul families uitgespreek en gesê hy werk saam met die owerhede om vas te stel presies wat gebeur het en ten volle met die ondersoek sal saamwerk.

Die ongeluk het gedurende die Amerikaanse Labor Day-naweek plaasgevind, een van die land se besigste reistye. Talle vlugte is gekanselleer of vertraag.