’n Nuwe persoonlike kankerentstof wat saam met ’n bestaande immunoterapiemiddel toegedien is, het belowende resultate in ’n groot kliniese proef gelewer. Die kombinasiebehandeling het die tyd wat hoërisiko-melanoompasiënte ná chirurgie kankervry gebly het, verleng.
Die entstof, Intismeran, is deur die farmaseutiese maatskappye Moderna en Merck & Co, wat in Europa as MSD bekend staan, ontwikkel. Dit is saam met Keytruda toegedien, ’n immunoterapiemiddel wat reeds vir die behandeling van kanker gebruik word.
Meer as 1 000 pasiënte met hoërisiko-melanoom in stadium twee, drie of vier het aan die fase 3-proef deelgeneem. Die pasiënte het behandeling ontvang nadat hulle chirurgie ondergaan het.
Volgens die twee maatskappye toon voorlopige resultate dat pasiënte wat Intismeran saam met Keytruda ontvang het, beduidend langer kankervry gebly het as pasiënte wat slegs Keytruda ontvang het.
Die kombinasiebehandeling het volgens die maatskappye ook die risiko verminder dat die kanker na ander organe versprei.
Dit is egter nog nie duidelik hoe lank die voordeel van die behandeling voortduur nie.
Anders as tradisionele entstowwe wat daarop gemik is om aansteeklike siektes te voorkom, word Intismeran spesifiek vir ’n individuele kankerpasiënt ontwikkel.
Wetenskaplikes gebruik mRNA-tegnologie, wat ook in sommige Covid-19-entstowwe gebruik is, om spesifieke mutasies in ’n pasiënt se kankerselle te teiken.
’n Klein gedeelte van die gewas word chirurgies verwyder, waarna die DNA daarvan ontleed word. Dié inligting word gebruik om ’n persoonlike entstof te ontwikkel wat die immuunstelsel help om enige oorblywende tumorselle te herken en aan te val.
Prof. Peter Johnson, nasionale kliniese direkteur vir kanker by NHS England, het die ontwikkeling as belangrik beskryf. Volgens hom verskil die benadering van bestaande kanker-immunoterapie deurdat die immuunstelsel baie spesifiek teen die kanker gerig kan word.
Moderna se uitvoerende hoof, Stephane Bancel, het die bevindings as ’n deurslaggewende oomblik in kankernavorsing beskryf.
Ondanks die belowende resultate beklemtoon kankerkenners dat mens nog steeds versigtig oet wees.
Die volledige resultate van die fase 3-proef is nog nie bekend gemaak of deur onafhanklike deskundiges beoordeel nie.
Dr. Talisia Quallo, hoof van voorkoming en vroeë opsporing by Cancer Research UK, het gesê die navorsing toon belofte, maar dat die tussentydse data nog volledig beoordeel moet word.
Dr. Lennard Lee, ’n mediese onkoloog en medeprofessor aan die Universiteit van Oxford, meen die bevindings kan veel wyer betekenis hê as slegs vir melanoompasiënte.
Volgens hom bied die studie ’n belangrike bewys van beginsel dat persoonlike kankerentstowwe kan werk.
Moderna en Merck toets soortgelyke persoonlike entstowwe ook vir long-, blaas- en nierkanker.
Selfs nadat die kliniese proefproses afgehandel is, sal die behandeling nog regulatoriese goedkeuring moet kry voordat dit algemeen beskikbaar gestel kan word.
Meer besonderhede oor die fase 3-proef sal na verwagting in Oktober tydens ’n mediese konferensie bekend gemaak word.