Vuurwapens wat wettig gelisensieer en besit word, beland deur diefstal, verlies en afwending in Suid-Afrika se misdaadmark. Dit gebeur terwyl vuurwapens die vernaamste moordwapen in die land is.
Van die 5 170 moorde wat die polisie tussen April en Junie vanjaar ontleed het, is vuurwapens in 2 513 gevalle gebruik – meer as die gesamentlike aantal moorde met messe, ander skerp of stomp voorwerpe, kaal hande en klippe.
Die gevaar word onderstreep deur die onopgeloste moord op Tiaan Minnie en sy pa, Heinrich Minnie (47), wat op 3 Februarie verlede jaar doodgeskiet is terwyl hulle vullis by die Arlington Waste Facility in Nelson Mandelabaai afgelaai het.
Meer as 19 maande later is niemand in hegtenis geneem nie en die moordwapen is nog nie gevind nie. Tiaan se ma, Samantha van der Vyver, het ’n beloning van R20 000 uitgeloof. Sy meen daar is ’n sterk waarskynlikheid dat dieselfde vuurwapen ook in ander moorde gebruik is.
Wapens uit wettige besit gesteel
Die misdaadaktivis Yusuf Abramjee waarsku dat ’n wettig gelisensieerde vuurwapen onwettig word sodra dit gesteel en na die misdaadmark afgelei word.
Dié gevaar is onlangs in Gqeberha weereens uitgelig toe twee kluise by ’n veiligheidsmaatskappy in Newton Park gesteel is. Nege haelgewere en twee gewere is gebuit, maar al 11 vuurwapens is dieselfde dag teruggevind. ’n Man (52) is in hegtenis geneem.
Die Oos-Kaapse polisie het in die week tot Sondag ook 1 169 mense tydens verskeie operasies in hegtenis geneem en op 42 vuurwapens beslag gelê. Van die verdagtes is 43 met ongelisensieerde vuurwapens en 17 met ammunisie betrap.
Duisende polisievuurwapens gesteel
Die probleem strek ook tot vuurwapens in staatsbesit. Die polisie het verlede maand aan die Parlement gesê 2 346 polisievuurwapens is sedert April 2022 gesteel en nog 177 verloor.
Een van die ernstigste bekende gevalle van afwending was dié van die voormalige polisiekolonel Christiaan Prinsloo. Hy is in 2016 skuldig bevind nadat vuurwapens wat vernietig moes word aan bendes op die Kaapse Vlakte verkoop is.
Prinsloo en sy medewerkers het 2 400 vuurwapens wat vir vernietiging bestem was, vir meer as R2 miljoen verkoop. Die wapens is met moorde en pogings tot moord verbind, met minstens 261 kinders onder die slagoffers.
Private veiligheidsmaatskappye is ook ’n bron van kommer. Sedert April 2025 is 205 vuurwapens van veiligheidsmaatskappye uit misdadigers se besit teruggevind, teenoor 154 polisievuurwapens.
Volgens Claire Taylor van Gun Free SA word 22 vuurwapens per dag deur burgers as verlore of gesteel aangemeld. Dit sluit gemiddeld vyf vuurwapens per dag van veiligheidsmaatskappye in.
Abramjee waarsku dat enige ongelisensieerde vuurwapen ’n ernstige bedreiging inhou.