Die bekende Afrikaanse komponis, musiekverwerker en musikoloog prof. Chris Lamprecht is Vrydagaand, 6 November, in die ouderdom van 99 jaar oorlede.

Lamprecht word onthou as een van die vooraanstaande bewaarders van Afrikaanse volks- en kerkmusiek. Sy komposisies en verwerkings het oor dekades deel geword van die Afrikaanse musiekerfenis en word steeds in kerke, skole en deur kore uitgevoer.

Christian Engelbertus Lamprecht is op 1 Oktober 1927 in Bloemfontein gebore. Hy het aan Hoërskool Sentraal gematrikuleer en in 1948 sy B.Mus.-graad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Daarna het hy verdere opleiding in klavier, orrel en sang ontvang en later in Europa in kerkmusiek, komposisie en koorleiding gespesialiseer.

Hy het later onder meer as direkteur van die NG Kerk se Kerkmusiekskool, senior orreldosent en hoof van die Universiteit van Pretoria se musiekdepartement gedien. Vir 26 jaar was hy ook orrelis van die NG Kerk Universiteitsoord in Pretoria.

Een van Lamprecht se grootste bydraes was die bewaring van Afrikaanse volksmusiek. Gedurende sy loopbaan het hy meer as 800 volksmelodieë uit Suid-Afrika en Namibië versamel. Van dié melodieë is 250 deur hom verwerk en deur die SAUK opgeneem.

Altesaam 52 van sy volksliedverwerkings en twee oorspronklike komposisies is in die FAK-Sangbundel van 1979 opgeneem. Verskeie van sy verwerkings is ook later weer in die 2012-uitgawe van die sangbundel ingesluit.

Sy bekende gewyde werke sluit Die Aandgesang, Immanuel en Wie het ek buiten U in. Hy het tot op hoë ouderdom aangehou komponeer en was nog kort voor sy dood aktief betrokke by die musiekgemeenskap.

Lamprecht se werk is oor die jare met verskeie toekennings vereer. Hy het in 1989 die FAK-Prestigetoekenning ontvang en is in 2016 met die Andrew Murray-FAK-toekenning vir sy bydrae tot Christelike musiek vereer. In Maart 2025 het die FAK hom ook met ’n Prestigetoekenning vir sy lewensbydrae tot Afrikaanse musiek vereer.

Tydens dié geleentheid in die NG Moedergemeente op George het die gemeente sy bekende Aandgesang gesing terwyl hy voor in die kerk gestaan het.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, sê Lamprecht se afsterwe is ’n besondere verlies vir die Afrikaanse musiekwêreld.

Lamprecht se seun, Charl, het later ’n versameling van sy oorspronklike bladmusiek, manuskripte, publikasies, foto’s en ander gedenkwaardighede aan die FAK geskenk. Die versameling word in die argief van die Erfenisstigting by die Voortrekkermonument bewaar.

Lamprecht laat sy vrou, Elza, sy kinders en familie agter. Sy musiek en die groot versameling volksliedere wat hy help bewaar het, sal egter nog lank deel van die Afrikaanse musiekerfenis bly.