Spelers wat tydens die volgende Wêreldbekertoernooi hul mond toehou terwyl hulle met opponente praat, kan die gevaar loop om met ’n rooi kaart van die veld gestuur te word.
Die besluit is Dinsdag geneem tydens ’n spesiale sitting van die Internasionale Sokkerverenigingraad (Ifab) in Vancouver, Kanada, waar twee nuwe wysigings aan die spelreëls goedgekeur is.
Een van dié wysigings bepaal ook dat spelers wat uit protes teen ’n skeidsregter se besluit die veld verlaat, afgestuur kan word. Hierdie stap volg ná omstrede gebeure tydens die Afcon-eindstryd tussen Marokko en Senegal.
Ifab het albei wysigings goedgekeur as opsionele reëls vir toernooie, en Fifa het bevestig dat dit tydens die komende Wêreldbeker toegepas sal word.
Die debat oor die bedekking van spelers se monde het vroeër vanjaar ontstaan toe Benfica se Gianluca Prestianni sy mond bedek het tydens ’n woordewisseling met Real Madrid se Vinicius jr.
Na afloop van ’n Uefa-ondersoek is Prestianni skuldig bevind aan homofobiese gedrag en vir ses wedstryde geskors, waarvan drie voorwaardelik opgelê is.
Die aangeleentheid is later dieselfde maand tydens Ifab se jaarvergadering in Wallis bespreek, waarna besluit is om dit verder te oorweeg tydens die Fifa-raad se vergadering in Vancouver.
Die toepassing van die nuwe reëls sal by die skeidsregter berus, wat elke geval volgens die omstandighede sal beoordeel voordat ’n rooi kaart uitgedeel word.
Fifa-president Gianni Infantino sê die doel is om spelers af te skrik van onvanpaste gedrag.
“As ’n speler sy mond bedek en iets rassisties sê, moet hy van die veld gestuur word,” het Infantino gesê. “As jy niks verkeerd sê nie, hoef jy nie jou mond toe te maak nie – dis so eenvoudig soos dit.”