Terwyl Suid-Afrika gister Vryheidsdag gevier het, het koning Charles III van Brittanje en sy vrou, koningin Camilla, hul beste wense aan Suid-Afrikaners oorgedra – ’n gebaar wat by sommige ’n wrange ironie ontlok het.
In sy boodskap het Charles verwys na die “diep en langdurige vriendskap” tussen Brittanje en Suid-Afrika en sy trots uitgespreek oor samewerking en gedeelde vooruitgang. Hy het ook Suid-Afrika se rol in internasionale aangeleenthede, insluitend klimaatsinisiatiewe en die G20, geprys.
Vir baie Afrikaners herinner sulke woorde egter aan ’n pynlike geskiedenis.
Die Britse Ryk, wat vandag vriendelike diplomatieke bande beklemtoon, was immers ook die mag wat tydens die Anglo-Boereoorloë die onafhanklikheid van die Boererepublieke beëindig het. Die verlies aan selfbeskikking, gepaard met die lyding van duisende vroue en kinders in konsentrasiekampe, bly ’n blywende deel van die Afrikaner se historiese geheue.
Charles se boodskap van samewerking en wedersydse respek kan nie los gesien word van die geskiedenis wat dit voorafgaan nie. Vryheid?? Regtig?? Vir wie??