CHANGZHOU – ‘n Hof in die ooste van China het ‘n voormalige stadsamptenaar ter dood veroordeel nadat hy skuldig bevind is aan die aanvaarding van meer as 2,2 miljard yuan se omkoopgeld oor ‘n tydperk van 30 jaar.
Yang Youlin (69), wat tussen 1993 en 2023 verskeie senior poste in die stad Nanjing beklee het, is ook skuldig bevind aan verduistering, magsmisbruik en geldwassery.
Hy het ‘n groot deel van sy loopbaan aan ekonomiese en tegnologiese ontwikkeling in Nanjing gewerk.
Volgens Chinese staatsmedia het Yang sy posisies gebruik om ander te help om ingenieurskontrakte, grondoordragte en finansiering te bekom in ruil vir geld en ander waardevolle items.
Die hof in Changzhou het bevind dat Yang se misdrywe “uiters ernstig” was en “buitengewoon groot skade aan die belange van die staat en die volk” berokken het.
Die bedrag wat hy onwettig bekom het, is volgens berigte een van die grootste korrupsiesomme wat die afgelope jare in China aan die lig gekom het.
Yang is ondersoek as deel van president Xi Jinping se uitgebreide veldtog teen korrupsie, wat sedert Xi se bewindsoorname talle senior amptenare in onder meer die weermag, die bankwese en ander sektore getref het.
Sedert Xi aan bewind gekom het, is verskeie teenkorrupsieveldtogte van stapel gestuur. Kritici voer egter aan dat die veldtogte ook gebruik is om politieke teenstanders uit magsposisies te verwyder.
Doodsvonnisse vir ekonomiese misdade en ander sogenaamde witboordjiemisdade is relatief skaars in China, maar word wel van tyd tot tyd opgelê, veral in sake waar omkoopgeld of bedrog bedrae van meer as 1 miljard yuan behels.