Sowat 5 000 wit Afrikaners het reeds na die Verenigde State (VSA) verhuis sedert president Donald Trump ’n jaar gelede die “Afrikaner-vlugtelingprogram” aangekondig het.
Volgens ’n dokument wat AFP onder oë gehad het, is die program ingestel op grond van bewerings dat Afrikaners as minderheidsgroep in Suid-Afrika vervolg word.
Hoewel die Trump-administrasie die toelating van vlugtelinge in die algemeen beperk het as deel van sy immigrasiebeleid, is ’n uitsondering gemaak vir Afrikaners, wat as afstammelinge van die eerste Europese setlaars beskou word.
Tussen 1 Oktober verlede jaar en 31 Maart vanjaar is altesaam 4 499 mense in 48 Amerikaanse deelstate hervestig. Volgens die Amerikaanse departement van buitelandse sake se buro vir bevolking was almal, behalwe drie, afkomstig uit Suid-Afrika.
Sedert Trump se terugkeer na die Withuis in Januarie 2025 is nog 340 Suid-Afrikaners in die vorige boekjaar toegelaat.
Die meeste van hierdie sogenaamde “Afrikaanse vlugtelinge” het in Februarie en Maart in Amerika aangekom, met meer as 1 300 mense wat elke maand hervestig is.
Die eerste groep van sowat 50 mense het reeds op 12 Mei per huurvlug na die VSA vertrek, terwyl latere groepe van kommersiële vlugte gebruik gemaak het.
Die Trump-regering het in Mei verlede jaar die aanbod van vlugtelingstatus aan die Afrikaner-gemeenskap gemaak en voer aan dat hulle slagoffers is van rassediskriminasie en selfs “volksmoord”. Die Suid-Afrikaanse regering verwerp hierdie bewerings egter ten sterkste.
Die Amerikaanse regering het intussen aangekondig dat die jaarlikse toelating van vlugtelinge van meer as 100 000 tot 7 500 teen die 2026-boekjaar verminder sal word, met voorkeur wat glo aan wit Suid-Afrikaners gegee sal word.
Hierdie ontwikkeling het bygedra tot toenemende spanning tussen Suid-Afrika en die VSA, wat reeds oor verskeie beleidskwessies verskil. In Desember is ’n sentrum wat opgerig is om hervestigingsaansoeke na Amerika te versnel, bestorm.
Die VSA voer aan dat Afrikaners sedert die einde van apartheid in 1994 aan vervolging blootgestel word, en verwys onder meer na plaasaanvalle en wetgewing wat swart verteenwoordiging in die ekonomie vereis.
Die Suid-Afrikaanse regering hou egter vol dat dié bewerings ongegrond is en beklemtoon dat swart Suid-Afrikaners die grootste slagoffers van misdaad is. Volgens die regering is beleid soos ekonomiese bemagtiging daarop gemik om die ongelykhede van die verlede reg te stel.