Twee seekoeie by die Naivasha-meer in sentraal-Kenia het gevrek nadat een weggegooide visnette ingesluk het en mieliestingels moontlik tot die ander se dood bygedra het, het die Keniaanse Wilddiens (KWS) gesê.

’n Nadoodse ondersoek van die eerste seekoei, ’n jong koei, het ’n saamgeperste massa sintetiese visnette in haar maag gevind. Die massa het die deurgang tussen die maag en dunderm heeltemal versper.

Die tweede seekoei, ’n volwasse koei, se maag het opgeblaas weens gasophoping. Volgens KWS het die druk haar longe ernstig saamgepers. Mieliestingels is tussen die maaginhoud gevind en kon tot oormatige voedselinname en gisting bygedra het.

Die KWS het vissers en plaaslike gemeenskappe versoek om visnette verantwoordelik te hanteer en weg te gooi, en te voorkom dat wild by ongeskikte voedsel uitkom. Die ondersoeke na seekoeivrektes by die meer duur voort.