Dokters in Sri Lanka het ’n enorme blaassteen van 3,1 kg uit ’n 55-jarige man verwyder – ’n steen wat volgens die mediese span moontlik die grootste van sy soort is wat nog aangeteken en chirurgies verwyder is.
Die operasie is verlede week by ’n hospitaal in Trincomalee in die ooste van Sri Lanka uitgevoer.
Die pasiënt is aanvanklik in die hospitaal opgeneem nadat hy ’n beroerte gehad het. Terwyl hy behandeling ontvang het, het dokters opgemerk dat hy sukkel om te urineer. Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat hy stene in sy blaas het.
Tydens die operasie is die buitengewone blaassteen verwyder. Dit het 3,1 kg geweeg – ongeveer soveel soos ’n voltermynbaba – en was naastenby so groot soos ’n volstruiseier.
Die steen was ongeveer 17 cm lank.
Dr. Pragalathan Balakrishnan, wat die operasie gelei het, sê beskikbare rekords dui daarop dat dit die grootste blaassteen is wat nog gedokumenteer en chirurgies verwyder is.
Volgens hom kon die steen reeds tussen vyf en tien jaar in die man se blaas gewees het.
Balakrishnan het gesê die pasiënt verkeer in baie goeie gesondheid. Hy bly egter in die hospitaal waar hy behandeling vir sy ander mediese toestande ontvang.
Blaasstene ontstaan wanneer minerale in urine kristalliseer en harde massas vorm. Dit gebeur dikwels wanneer die blaas nie heeltemal leegloop nie, wat gekonsentreerde urine agterlaat waarin kristalle kan vorm.
Klein blaasstene, soms so klein soos sandkorrels, kan vanself uitgeskei word. Stene groter as 1 cm kan egter die vloei van urine versper en mediese behandeling vereis. ’n Blaassteen groter as 4 cm word as ’n reuseblaassteen beskou.
Volgens Guinness World Records is die vorige rekordhouer in 2003 uit ’n pasiënt in Brasilië verwyder. Dié blaassteen het 1,9 kg geweeg en was 17,9 cm lank.
Die steen wat nou in Sri Lanka verwyder is, is met sy lengte van sowat 17 cm effens korter, maar met ’n gewig van 3,1 kg aansienlik swaarder as die vorige rekordsteen.
Die aanspraak dat dit ’n nuwe rekord is, kom in dié stadium van die mediese span op grond van beskikbare rekords. Inligting dui nie daarop dat Guinness World Records dit reeds amptelik as ’n nuwe rekord erken het nie.