PRETORIA – Ouers wat tuisonderrig of aanlyn skole vir hul kinders oorweeg, kan binnekort met nuwe regulasies te doen kry namate die Departement van Basiese Onderwys werk aan strenger beheer oor dié groeiende onderwyssektor.
Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het tydens die departement se 2026/’27-begrotingsdebat bevestig dat verdere konsepregulasies oor tuisonderrig nog in die huidige boekjaar vir openbare kommentaar gepubliseer sal word.
Sy het ook gesê die Suid-Afrikaanse Skolewet word gewysig om aanlyn skole amptelik te erken en te reguleer.
Die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Omvattende Assesseringsinstituut (SACAI), Chris Klopper, sê die beplande regulasies vestig opnuut die aandag op tuisonderrig en aanlyn skole, aangesien al hoe meer gesinne alternatiewe onderwysopsies oorweeg.
Volgens die 2011-sensus was daar sowat 57 000 tuisskoliere in Suid-Afrika. Die organisasie SA Homeschoolers skat dié getal het teen 2025 tot ongeveer 300 000 gegroei, wat volgens die organisasie die vinnigste groeiende vorm van onderwys wêreldwyd is.
Volgens Klopper het die Covid-19-pandemie die skuif na alternatiewe onderwys versnel, aangesien baie gesinne gedurende die inperking aan tuisgebaseerde leer blootgestel is en daarna besluit het om daarmee voort te gaan.
‘n Ontleding deur Teneo School toon ook dat belangstelling in aanlyn skole toeneem. Google-soektogte na “online school” het in Januarie met 69% in Gauteng en 87% landwyd toegeneem, met meer as 103 000 Google-soektogte wat die afgelope maand landwyd aangeteken is.
Klopper waarsku egter dat ouers nie bloot op terme soos “geregistreer”, “geakkrediteer”, “erken” of “belyn” moet staatmaak wanneer hulle ‘n onderwysverskaffer kies nie.
Hy sê ouers behoort vas te stel by watter instansie ‘n verskaffer geregistreer is, waarvoor die registrasie geld en hoe dit hul kind se assessering en uiteindelike kwalifikasie sal beïnvloed.
SACAI is ‘n private assesseringsliggaam wat deur Umalusi geakkrediteer is om eksamens vir graad 10- tot 12-kandidate by SACAI-geregistreerde instellings te administreer, waarvan baie tuisonderrig-, afstandsonderrig- en aanlynonderrigprogramme aanbied.
Klopper beklemtoon dat SACAI nie skole bedryf nie, maar die geloofwaardigheid van assesseringsprosesse ondersteun binne die onderwysroetes wat hy ondersteun.