Die St Stithians College-gemeenskap in Sandton is in rou nadat die 17-jarige gr. 11-leerder Cameron Waldeck-Cooks en die 19-jarige oudleerder Ethan Coetzee dood by ’n selfsorgvakansiehuis in Sabie, Mpumalanga, aangetref is. Die polisie ondersoek Waldeck-Cooks se dood nou as moord nadat ’n nadoodse ondersoek daarop gedui het dat sy verwurg is.
Die jong paartjie se liggame is Maandagoggend, 3 Augustus, omstreeks 07:30 deur personeellede gevind toe hulle die kamer wou skoonmaak.
Die liggame is by die Waterval Self-Catering Holiday Home, ’n vyfslaapkamer-selfsorgvakansiehuis sowat een kilometer buite Sabie op die R37 in die rigting van Lydenburg, gevind.
Kol. Mavela Masondo, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Polisiediens in Mpumalanga, sê beamptes is ontbied nadat twee mense dood by die verblyf aangetref is.
Met hul aankoms het die polisie die liggame van ’n 19-jarige man en ’n 17-jarige meisie gevind. Albei is op die toneel dood verklaar.
Die polisie het aanvanklik ’n geregtelike doodsondersoek geopen. Volgens Masondo het die resultate van die nadoodse ondersoek egter daarop gedui dat Waldeck-Cooks verwurg is, terwyl Coetzee vermoedelik sy eie lewe geneem het.
Die ondersoek duur voort om die volle omstandighede rondom die twee sterftes vas te stel.
Waldeck-Cooks se pa, Derrick Cooks, sê sy dogter het na Sabie gereis vir ’n staptoer as deel van haar voorbereiding vir die goudvlak van The President’s Award for Youth Empowerment, die Suid-Afrikaanse implementering van The Duke of Edinburgh’s International Award.
As deel van die program het sy voorberei om ’n meerdaagse avontuurreis te voltooi. Toe sy genooi is om saam met twee gesinne op ’n staptoer in Sabie te gaan, het sy dit as ’n geleentheid beskou om aan dié doelwit te werk.
Cooks sê die familie is daardie oggend in kennis gestel dat Cameron se liggaam gevind is.
Hy het sy dogter beskryf as ’n geliefde dogter, suster, familielid, vriendin en leerder.
“Sy was goedhartig, warm en vasberade. Sy het ’n stille krag gehad, diep omgegee vir die mense om haar en was iemand wat jonger meisies wat na haar opgekyk het, spontaan aangemoedig en ondersteun het,” het hy gesê.
Volgens haar pa het haar dood ’n onmeetbare leemte in die familie se lewe gelaat.
St Stithians het Coetzee op sy beurt onthou as “’n jong man van krag, toewyding en nederigheid”.
Volgens die skool het hy sy belangstellings met groot entoesiasme aangepak, hetsy in die klaskamer, op die rugbyveld, in perdesport of deur diens aan ander.
Die polisie se ondersoek na die presiese omstandighede rondom Waldeck-Cooks en Coetzee se dood duur voort.