Die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf het vroeër vanjaar verwag om ’n rekordoes uit te voer, met sowat 209 miljoen kartonne sitrus van 15 kg elk wat na internasionale markte sou vertrek. Dit sou ’n toename van 2% wees op die 203,9 miljoen kartonne wat verlede jaar uitgevoer is.
Nou waarsku die bedryf egter dat die onlangse vloede in dele van die Wes- en Oos-Kaap dié vooruitsigte kan knou. Indien uitvoervolumes met net 5% daal, kan die bedryf volgens ramings sowat R2,245 miljard aan potensiële inkomste verloor. Só ’n afname kan nie net uitvoerverdienste en buitelandse valuta-inkomste raak nie, maar ook werkgeleenthede regdeur die landbouwaardeketting onder druk plaas.
Die sitrusbedryf het verlede jaar uitvoere ter waarde van ongeveer R44,9 miljard gelewer en is ’n belangrike bron van werk en ekonomiese aktiwiteit. Die bedryf ondersteun na raming 140 000 direkte werksgeleenthede en bied ’n bestaan aan ongeveer 250 000 mense deur sy breër waardeketting.
Volgens voorlopige skadebepalings deur die Sitruskwekersvereniging (SKV) is die uitwerking van die vloede veral merkbaar in die Oos-Kaap, met Kouga en die Gamtoosvallei onder die gebiede wat die swaarste getref is. In die Wes-Kaap het Citrusdal en die Boland ook erge reën ervaar, hoewel infrastruktuurverbeterings van die afgelope twee jaar gehelp het om groter skade te beperk.
Mandaryne word as een van die gewasse beskou wat die grootste risiko loop. Citrusdal en die Boland is die land se belangrikste produksiegebiede vir dié vrug, en die vloede het kritieke oeswerk vroeg in die seisoen ontwrig.
Die SKV sê dit is nog te vroeg om die volle omvang van die skade te bepaal omdat sommige plase steeds ontoeganklik is. Die effek van vrugte wat van bome afgeval het, sal ook eers later volledig sigbaar word.
Dr. Boitshoko Ntshabele, uitvoerende hoof van die SKV, sê landbougemeenskappe in beide die Wes- en Oos-Kaap staar steeds die nagevolge van die vloede in die gesig.
“Baie produsente moes die afgelope paar weke terselfdertyd onmiddellike verliese en die langtermyngevolge van infrastruktuurskade hanteer,” sê hy.
Volgens Ntshabele het die swaar weer op ’n besonder sensitiewe tyd aangebreek. Die huidige sitrusseisoen, wat gewoonlik van April tot Oktober duur, het vanjaar reeds twee tot drie weke vroeër as normaal begin.
Die situasie plaas verdere druk op produsente wat reeds met hoër insetkoste vir onder meer diesel en kunsmis, asook stygende verskepingskoste, te kampe het.
“Wat aanvanklik na ’n sterk seisoen gelyk het, vereis nou groot aanpasbaarheid van produsente en uitvoerders,” sê Ntshabele.