Konflik in die Midde-Ooste verhoog die gevaar vir walvisse langs Suid-Afrika se kus, aangesien skeepsverkeer toenemend na hul habitat verskuif en die risiko van botsings toeneem, het navorsers aan AFP gesê.
Die herleiding van skeepsroetes om Suid-Afrika – weg van die Rooisee en die Suezkanaal sedert laat 2023 – het die waarskynlikheid van botsings met walvisse aansienlik verhoog, volgens nuwe navorsing.
Suid-Afrika se suidwestelike kus huisves wêreldbelangrike walvisbevolkings, maar is terselfdertyd deel van toenemend besige skeepsroetes, volgens ’n verslag wat vandeesmaand aan die Internasionale Walviskommissie (IWC) voorgelê is.
Hierdie groot ruimtelike oorvleueling tussen walvisse en skeepsverkeer verhoog die risiko van botsings, het die hoofnavorser van die Universiteit van Pretoria se walviseenheid, Els Vermeulen, gesê.
’n Deel van die wêreld se skeepsverkeer is van die Rooisee afgelei ná die kaping van die Britse voertuigdraer Galaxy Leader deur Houthi-rebelle naby Jemen in November 2023.
Daaropvolgende aanvalle en die VSA-Israel-konflik met Iran, wat deurvaart deur die Straat van Hormuz belemmer het, het skeepsmaatskappye genoop om meer vaartuie om die Kaap die Goeie Hoop te stuur.
Tussen 1 Maart en 24 April vanjaar het gemiddeld 89 handelskepe suid van Afrika gevaar, vergeleke met 44 oor dieselfde tydperk in 2023, volgens die Internasionale Monetêre Fonds se PortWatch-stelsel.
Geen tyd vir aanpassing nie
Omgewingswetenskaplikes, aktiviste en selfs sosiale media-plasings het reeds die gevaar van verhoogde skeepsverkeer vir see-soogdiere beklemtoon, het Vermeulen gesê.
“Daar was video’s van mense op vragskepe wat deur gebiede met ’n hoë konsentrasie bultrugwalvisse beweeg het,” het sy gesê.
“Op sosiale media was die reaksie: ‘Kyk net hoeveel walvisse sien ons!’”
“Maar my hart het gaan staan – jy weet daardie skepe tref waarskynlik ’n paar van hulle.”
Volgens haar is walvisse dikwels onbewus van die gevaar omdat hulle besig is met aktiwiteite soos voeding.
“Die vinnigste skeepsverkeer – wat die grootste botsingsrisiko inhou – het viervoudig toegeneem,” het Vermeulen gesê.
Chris Johnson, wêreldleier van WWF se Walvis- en Dolfynbewaringsinisiatief, sê die diere het nie genoeg tyd gehad om by die veranderde toestande aan te pas nie.
Byvoorbeeld, blouwalvisse naby Los Angeles duik bloot onder die oppervlak wanneer hulle ’n skip hoor, eerder as om weg te beweeg.
“’n Mens sou verwag dat hulle van harde geluide af wegbeweeg, maar dit is nie altyd die geval nie,” het hy gesê.
In sommige gevalle plaas veranderinge in walvisgedrag – moontlik as gevolg van klimaatsverandering – hulle selfs meer in gevaar.
Sedert 2011 voed groot groepe bultrugwalvisse seisoenaal langs Suid-Afrika se toenemend besige weskus, het Ken Findlay, ’n kenner van die blou ekonomie, gesê.
“Dit dra beslis by tot ’n verhoogde risiko van botsings,” het hy gesê.
Botsings, wat dikwels nie aangemeld word nie, is volgens ’n 2024-studie in die tydskrif Science ’n belangrike oorsaak van walvissterftes.
Tog is daar steeds min beskermingsmaatreëls in plek vir spesies wat nog herstel ná die internasionale verbod op walvisjag in 1986.
Alternatiewe roetes kan help
Die verslag aan die Internasionale Walviskommissie dui daarop dat klein aanpassings aan skeepsroetes – om dit verder van die kus af te skuif – die botsingsrisiko met 20% tot 50% vir sekere walvisspesies kan verminder.
Sulke veranderinge sou slegs ’n geringe bykomende afstand van sowat 20 seemyl beteken op roetes wat soms meer as 10 000 seemyl lank is.
Die wêreld se grootste skeepsmaatskappy, MSC, het reeds skepe by Griekeland en Sri Lanka herlei om walvisse te beskerm.
Hoewel verdere navorsing nodig is, kan een moontlike oplossing wees om skepe via toepassings of radio te waarsku oor die teenwoordigheid van groot walvisgroepe, het Estelle van der Merwe van die Ocean Action Network gesê.
Daar word ook ondersoek ingestel na die gebruik van KI-gebaseerde kameras op skepe.
Die Departement van Bosbou, Visserye en Omgewing (DFFE) het gesê alle beskikbare oplossings en versagtingsmaatreëls sal oorweeg word.
“Sodra die wetenskaplike studies en evaluasies voltooi is, sal maritieme owerhede saam met die DFFE die pad vorentoe bepaal,” het die departement gesê.