Amerikaanse president Donald Trump het Woensdag ’n nuwe reuse-helikopterlandingsplek op die suidelike grasperk van die Withuis aan joernaliste gewys – een van verskeie bouprojekte waarmee hy gedurende sy tweede termyn sy stempel op Washington wil afdruk.
Die 80-jarige Trump, wat sy fortuin in die New Yorkse eiendomsbedryf gemaak het, het joernaliste op ’n onverwagse toer van die nuwe landingsplek geneem.
“Een ding wat ek weet hoe om te doen, is bou!” het Trump gesê.
Volgens Trump was die granietlandingsplek nodig omdat die nuwe helikopters wat as Marine One dien wanneer die president aan boord is, die gras op die bekende grasperk agter die Withuis kan verskroei of beskadig.
“Nou, met die helikopterlandingsplek, sal ons geen probleem met die gras hê nie,” het hy gesê.
Trump het ook bevestig dat hy opdrag gegee het dat die aanvanklike werk aan die landingsplek oorgedoen word omdat dit volgens hom teen ’n te steil helling gebou is.
Hy het gesê die landingsplek sal betyds gereed wees vir die Chinese president Xi Jinping se aankoms op 24 September.
Trump het tydens die besoek die agterkant van ’n arendskopvormige klip onderteken wat in die landingsplek aangebring sal word.
Die landingsplek self is ontwerp as ’n reuse weergawe van die amptelike seël van die president van die Verenigde State.
Die bouwerk het meegebring dat ’n groot gedeelte van die historiese grasperk opgebreek is.
Dié grasperk was deur die jare die toneel van verskeie belangrike oomblikke in die Amerikaanse geskiedenis, waaronder president Richard Nixon se vertrek ná sy bedanking in 1974 en die ondertekening van die Oslo-akkoorde in 1993.
Die helikopterlandingsplek is een van verskeie bouprojekte wat Trump tydens sy tweede termyn aangepak het.
Kritici het veral beswaar gemaak teen die sloping van die Withuis se Oostelike Vleuel om plek te maak vir ’n enorme balsaal.
Trump het Woensdag ook oor die omvang van dié projek gespog. Volgens hom sal die kompleks ’n hoogs geheime ondergrondse bomskuiling en ’n hommeltuighawe op die dak insluit.
“Dit sal die grootste militêre kompleks/balsaal ter wêreld wees,” het Trump gesê.
Die balsaalprojek is egter die onderwerp van regstappe. Die Trump-administrasie het verlede week die Amerikaanse Hooggeregshof gevra om toe te laat dat die bouwerk op grond van nasionale veiligheidsredes voltooi word.
Trump hou vol dat die balsaal privaat gefinansier sal word. Mediaberigte in Junie het egter aangedui dat aansienlike belastinggeld ook vir die projek aangewend word. Die totale koste kan volgens dié berigte tot $600 miljoen beloop.
Trump se bouplanne strek verder as die Withuis.
Ander projekte sluit die opknapping van die weerkaatsingspoel by die Lincoln-gedenkteken en ander parke in, asook die oprigting van ’n triomfboog.
Trump wil dié veranderings teen die einde van sy tweede ampstermyn in Januarie 2029 voltooi.
One resource worth trying: https://ucvj.dzsiitxic.top/. It brings together fresh roles daily so you can filter by exactly what you want. For what it’s worth.