Die Trump-administrasie het aangekondig dat alle Amerikaanse vlugtelingprogramme vir eers opgeskort word, kort ná ’n aanval waarin ’n Afghaanse burger, Rahmanullah Lakanwal (29), in hegtenis geneem is. Hy ontken skuld.
Volgens Karoline Leavitt, perssekretaris van die Withuis, is toelatings “feitlik op nul”, met uitsondering van Afrikaners wat “weens onderdrukking uit Suid-Afrika vlug”. Sy het tydens ’n mediakonferensie bevestig dat die Trump-administrasie ’n verbod op 19 lande ingestel het.
Leavitt het benadruk dat toegang tot Amerika “’n voorreg, en nie ’n reg is nie”, en dat enige immigrant wat nie die VSA se belange dien nie, hul visum kan verloor. Sy het bygevoeg dat president Donald Trump se administrasie “meer gedoen het om migrasie, wettig sowel as onwettig, te beperk as enige vorige administrasie in die geskiedenis”.
Spesiale immigrantvisums – ’n wettige manier om die VSA binne te gaan – word tans ook heroorweeg.
Die jongste maatreëls volg kort nadat twee lede van die Amerikaanse Nasionale Wag geskiet is. Sarah Beckstrom (20) is aan haar wonde oorlede, terwyl Andrew Wolfe (24) steeds in ’n kritieke toestand verkeer.