Die vakbond Solidariteit het aangekondig dat hy dringend met die regerings van Suid-Afrika en die Verenigde State van Amerika (VSA) in gesprek wil tree oor beweerde diskriminerende arbeidspraktyke.
Dit volg nadat die United States Trade Representative ’n ondersoek ingevolge Artikel 301 van die Amerikaanse Handelswet van stapel gestuur het. Die ondersoek fokus op moontlike dwangarbeid en diskriminasie binne Suid-Afrika se arbeidsomgewing.
Indien die ondersoek bevind dat daar oortredings plaasvind, kan dit verreikende gevolge hê. Die VSA kan onder meer besluit om handel met Suid-Afrika op te skort of hoër invoertariewe op Suid-Afrikaanse produkte in te stel.
Volgens Jaco Kleynhans, hoof van openbare skakeling by Solidariteit, kan dit ernstige gevolge hê vir Suid-Afrikaanse werkers en uitvoerbedrywe wat afhanklik is van handel met die VSA.