Die voormalige Suid-Koreaanse president, Yoon Suk Yeol, is tot 30 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan magsmisbruik en optrede wat volgens die hof die land se veiligheid in gevaar gestel het.
Die hof het bevind dat Yoon betrokke was by ’n operasie waarin hommeltuie in Oktober 2024 na Noord-Korea gestuur is. Aanklaers het aangevoer dat die doel daarvan was om spanning tussen die twee lande te verhoog en sodoende ’n verskoning te skep vir sy omstrede besluit om krygswet in te stel.
Volgens die aanklaers het Yoon probeer om die indruk te skep dat ’n oorlogsdreiging bestaan. Hulle meen dié optrede het Suid-Korea se nasionale veiligheid ondermyn.
Yoon ontken die aantygings. Sy regsverteenwoordigers sê hy het nooit die hommeltuig-operasie beveel of goedgekeur nie. Hulle voer aan dat die vlugte eerder ’n reaksie was op Noord-Korea se optrede om ballonne vol vullis oor die grens na Suid-Korea te stuur.
Noord-Korea het Suid-Korea destyds daarvan beskuldig dat hommeltuie oor Pyongyang gevlieg het om propaganda te versprei. Die Suid-Koreaanse regering het destyds nie die bewerings bevestig of ontken nie.
Volgens die vervolgingsgesag het die operasie die spanning tussen die twee lande verhoog en daartoe gelei dat sensitiewe militêre inligting moontlik blootgelê is nadat sommige hommeltuie neergestort het.
Die jongste vonnis volg op ’n vorige uitspraak waarin Yoon lewenslange tronkstraf opgelê is oor sy rol in die instelling van krygswet. Hy is daarvan beskuldig dat hy die parlement se werking wou ontwrig.
Yoon het teen dié uitspraak geappelleer en hou vol dat sy optrede in belang van Suid-Korea was.
Hy is verlede jaar uit sy amp verwyder nadat die land se Grondwethof sy afsetting bekragtig het. Dit het gelei tot ’n vervroegde verkiesing wat deur die huidige president, Lee Jae Myung, gewen is.
Verhoudinge tussen Noord- en Suid-Korea bly gespanne. Die twee lande is tegnies steeds in ’n toestand van oorlog aangesien die Koreaanse Oorlog nooit met ’n formele vredesooreenkoms beëindig is nie.
Die gebruik van hommeltuie oor die grens bly een van die grootste bronne van spanning tussen die twee lande. President Lee het vroeër vanjaar sy kommer uitgespreek nadat ’n ondersoek bevind het dat Suid-Koreaanse amptenare ook in Januarie hommeltuie na Noord-Korea gestuur het.
Hoewel daar vroeër tekens van beter betrekkinge was, het Noord-Korea Suid-Korea onlangs weer as sy “vyandigste vyand” beskryf.