Erfenisdag word vanjaar weer by Loftus Versfeld vir ’n groot Guinness-wêreldrekordpoging ingespan, waar organiseerders hoop om 3 000 mense tegelyk te laat braai.
Die geleentheid verskil egter aansienlik van die gewone familie- of gemeenskapsbraai waarmee talle Suid-Afrikaners dié dag vier. Deelnemers betaal R255 elk, moet by aangewese braaistasies bly en kry onder meer wors, ’n broodrolletjie of pap, ’n braaitang en ’n handelsmerkvoorskoot.
Die poging volg nadat verlede jaar se rekordpoging nie amptelike Guinness-erkenning gekry het nie.
Altesame 2 412 mense het toe deelgeneem — meer as die bestaande rekord van 2 220 — maar sommige deelnemers het hul aangewese braaistasies verlaat om te kuier en foto’s te neem. Dit het beteken dat die poging nie aan Guinness se vereistes voldoen het nie.
Vanjaar sal 500 vooraf aangesteekte braaie gereed staan. Die rekordpoging duur van 10:00 tot 12:00 en deelnemers moet gedurende dié hele tyd by hul aangewese stasies bly.
Ná die rekordpoging duur die Erfenisdagfees tot 20:00 voort. Mafikizolo, Shekhinah, Matthew Mole, Lady Zamar, Zaan Sonnekus en Ben Rodrigues sal optree, terwyl koswaens en ontspanningsareas vir gesinne ook beskikbaar sal wees. Daar sal ook ’n biertuin vir volwassenes van 18 jaar en ouer wees.
5FM se Karabo sal die stasie se 5 Mid Mornings regstreeks vanaf Loftus Versfeld aanbied.
Boer24-lesers sal Erfenisdag waarskynlik eerder rondom ’n eie braaivleisvuur saam met familie, vriende en volksgenote wil deurbring. Daar kan die dag op eie bodem en volgens eie tradisies gevier word — sonder Guinness-beamptes, internasionale rekordreëls of ander inmenging van buite.